Is daar enige verband tussen die Christelike godsdiens en die antieke heidense kultusse?
Jan Brink
In een van hierdie aanlyn forums skryf ‘n persoon dat die Christelike godsdiens maar net ‘n kopie is van ‘n ou Oosterse kultus. Verder dat dieselfde moeder en god in albei voorkom, en ook ‘n godeseun wat gesterf het en toe opgewek is. Klaarblyklik is dit ‘n verwysing na die Griekse godin Cybele en Attis, wat later ook in Rome ‘n setel gekry het. Wat is die waarheid?
Profesieë en hulle gevolg
Suid-Afrika het sy eie profeet gehad met die naam van Siener van Rensburg. Volgens een van sy visioene het hy ‘n dam gesien, die wal het gebreek en die dam was leeg. ‘n “Pro-aktiewe” sogenaamde regsgesinde Afrikaner het in 2001 besluit dat dit nou die regte tyd was om hierdie visioen te bewaarheid. Hy wou die Vaaldam se wal gaan opblaas, maar is gevang voordat hy dit kon doen.
Dit is nie hoe profesieë werk nie. ‘n Profesie word vervul sonder dat dit beplan word. Indien iemand willens en wetens ‘n profesie wil bewaarheid, is die uitkoms ‘n gevolg van die profesie. Die profetiese woorde wat gespreek is, is egter dan nog nie vervul nie. Sou die persoon die Vaaldam wel opgeblaas het, is dit nie te sê dat die profetiese woorde bewaarheid is nie. Die profetiese woorde in sy volle konteks kon verwys het na iets heeltemal anders.
Dit gaan hier ook oor profesieë..
Nimrod die antitese van Abraham
Nimrod, die agter-kleinseun van Noag (Nimrod, seun van Kus, seun van Gam, seun van Noag) en sy nageslag was ook baie “pro-aktiewe” mense. Volgens Genesis was Nimrod die eerste maghebber op die aarde. Vanuit buite-Bybelse bronne kan ‘n mens agterkom dat hy die antitese (teenoorgestelde pool) was van Abraham.
Dié Verlosser (Jesus Christus) sou uit die nageslag van Abraham gebore word. Nimrod was egter die voorvader van baie van die skeppers van heidense kultusse wat via Babilon en Egipte uiteindelik by die Grieke en Romeine uitgekom het. Die nageslag van Nimrod het geweet van die profetiese belofte dat ‘n verlosser gebore sou word. Die wyse manne uit die Ooste wat tydens Jesus se geboorte na Bethlehem gekom het, word immers in verband gebring met die Magi. Die Magi is navolgers van die heidense profeet Zoroaster (Zarathushtra) wat iewers tussen 2000 en 1000 v.C. in Iran geleef het (uit die nageslag van Nimrod). Sommige bronne plaas hom nog verder terug in die geskiedenis. Zoroaster was volgens sekere historici ook self die skepper van die Mitra (songod)-kultus.
Volgens die Bybelse teks weet ons dat daar lank reeds, al van na die sondeval, geprofeteer is dat die Verlosser eendag uit ‘n vrou gebore sou word. Daarom vind ons dat die kultusse wat deur Nimrod se nageslag geskep is, soortgelyke eienskappe getoon het as Maria en Jesus wat uit die nageslag van Abraham gebore is. Die kultusse uit die nageslag van Nimrod was dus mensgemaakte pro-aktiewe skeppings van ‘n mensgemaakte godsdiens wat die profesieë probeer vooruitloop het. Net soos die man wat die Vaaldam probeer opblaas het.
[Jesus Christus het ook dieselfde geprofeteer met betrekking tot Sy wederkoms, Mattheus 24:23: "As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.]
Vermenging het wel plaasgevind
Die Cybele kultus het in ongeveer 210 v.C. ‘n staanplek in Rome gekry. Keiser Augustus en sy opvolger Claudius het dit die amptelike Romeinse kultusdiens gemaak. Dit is duidelik dat die Romeine ‘n ooreenkoms kon gesien het tussen hulle bestaande Cybele-Attis kultusaanbidding en Maria-Jesus van die Christendom en daarom die Christelike godsdiens maklik kon aanvaar. Dit word ook in sommige historiese bronne so aangedui. Baie van die gebruike in die kultusaanbidding het dus ongelukkig ook sy weg gevind na die Rooms Katolieke Kerk, waaronder sekere heidense leerstellings, gebruike en feesdae.
‘n Nuwe geslag kom te voorskyn
Die Hervorming van die 16de eeu was ‘n skielike wakkerskrik uit die donker. Die Protestantse Kerke wat tot stand gekom het, het besef dat wat deur die Rooms Katolieke Kerk aangebied en verkondig word nie verantwoordbaar was volgens die Woord van God nie. Daarom is “Sola Scriptura” – Uit die Skrif (Woord) alleen een van die vyf pilare van die Hervorming.
Sola scriptura, Sola fide, Sola gratia, Solus Christus, Soli Deo gloria
Die finale oordeel
So byna aan die einde van die Bybel (Openbaring 17 – 19) kom die klimaks, die finale waarskuwing en troos. Die geestelike nageslag van die verbondslyn wat vanaf Abraham deur Jesus Christus loop kom te staan teenoor die geestelike nageslag van die kultusdiens wat vanaf Nimrod deur die skeppings van Zoroaster en sy volgelinge loop. Die Lam (Jesus Christus) word gestel teenoor die dier en die sedelose vrou (Openbaring 17: 1-6).
Openbaring 19 (1 -10): Hierna het ek iets gehoor soos die harde geluid van ‘n groot menigte in die hemel wat uitroep: "Prys die Here! Die oorwinning, die heerlikheid en die mag behoort aan ons God!
Regverdig en reg is sy oordele, want Hy het die oordeel voltrek oor die sedelose vrou wat die aarde deur haar onsedelikheid verwoes het. Hy het die dood van sy dienaars op haar gewreek."
Verder het hulle uitgeroep: "Prys die Here! Haar rook styg tot in alle ewigheid op."
Die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het gekniel en God aanbid wat op die troon sit. Hulle het gesê: "Amen! Prys die Here!"
Toe het daar ‘n stem van die troon af gekom wat gesê het: "Loof ons God, al sy dienaars, dié wat Hom vrees, klein en groot!"
Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ‘n groot menigte, soos die gedruis van ‘n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle het uitgeroep: "Prys die Here! Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as koning.
Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak.
God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek." Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges.
Toe sê die engel vir my: "Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is." Verder sê hy vir my: "Dit is die woorde van God, en hulle is waar."
Toe het ek voor sy voete op my knieë neergeval om hom te aanbid. "Pas op, moenie!" sê hy toe vir my. "Ek is ‘n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gegee het."
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css