Het dit sin om God te dien?
Hentie Krüger
www.midweek.co.za
“Julle het gesê: ‘Dit is nutteloos om God te dien. Watter nut het dit dat ons sy bevel uitgevoer het en in rouklere rondgeloop het voor Hom‚ die Here die Almagtige? Dit lyk vir ons of dié wat teen Hom in opstand is‚ die gelukkiges is‚ en of dié wat verkeerd doen‚ vooruitgaan. Hulle daag God uit en kom vry!’”
— Maleagi 3:14-15 —
Daar kom oomblikke in die lewe van die kerk en in die lewe van Christene dat hulle begin wonder oor die evangelie – oor die krag‚ die betekenis‚ die effektiwiteit daarvan … ’n Mens hoor nogal soms van mense wat van die een of ander groot misdaad aangekla is en dan ná ’n uitgerekte en uitmergelende hofsaak vrygespreek word – natuurlik tot hulle vreugde en verligting. Maar wanneer hulle wil terugkeer na die samelewing‚ stuit hulle vanweë die vooroordeel van mense op die een probleem na die ander – totaal teen hul eie verwagting in …
Op ’n manier omskryf hierdie soort ontnugterende ervaring iets van die situasie wat aanleiding gegee het tot die skryf van ons teks. Dit kan met Christene gebeur dat hulle tot geloof kom en dit as ’n geweldige‚ lewensveranderende gebeurtenis ervaar. Dit kan vir hulle in daardie stadium voel of alles nou reggekom het en niks‚ niks ooit weer verkeerd kan loop nie. Soos die aangeklaagde in die voorbeeld hierbo is so iemand vrygespreek en stap hy of sy die nuwe‚ herstelde lewe vol verwagting en met ’n glimlag tegemoet.
Dit gaan ook aanvanklik goed … Nie heeltemal so goed soos hulle aanvanklik gedink het nie‚ maar hulle is tog positief en vol moed en glo dat dié dinge maar die laaste stuiptrekkings van die ou lewe is. Soos die tyd voortgaan en die probleempies nie ophou nie‚ raak dit al hoe moeiliker om positief te bly. Totdat hulle op ’n dag aan hulself moet erken dat dinge besig is om anders uit te werk as wat hulle verwag het … Dis net baie moeiliker‚ ingewikkelder‚ ánders as wat hulle gehoop het dit sou wees … Is dit regtig so wonderlik om ’n gelowige te wees as wat die mense beweer het? Of het hulle Jesus Christus oorskat en te veel van Hom verwag …?
Is ons verbaas hieroor? Dalk ook stilweg ’n bietjie verleë? Ons hoef nie te wees nie. Dit is ’n baie algemene geloofservaring hierdie. Ons tref dit ook op baie ander plekke in die Bybel aan.
In Maleagi 3:14-15 sê die mense:
“Dit is nutteloos om God te dien. Watter nut het dit dat ons sy bevel uitgevoer het en in rouklere rondgeloop het voor Hom‚ die Here die Almagtige? Dit lyk vir ons of dié wat teen Hom in opstand is‚ die gelukkiges is‚ en of dié wat verkeerd doen‚ vooruitgaan. Hulle daag God uit en kom vry!”
Wat het nou van die beloftes van die Here geword? Het hulle nie geleer dat dit goed gaan met diegene wat die Here dien nie? Is dit nie in die tempel en sinagoge geleer dat sonde gestraf en geloof beloon word nie? Staan dit nie in Deuteronomium en van die ander Bybelboeke nie?
As dit dan nie in die werklikheid gebeur en hulle dit nie beleef nie‚ kom die vraag na vore: Watter nut het dit om God te dien? Dit is nutteloos om God te dien‚ want dit gaan sleg met dié wat Hom dien. Ons luister na sy bevele en kry swaar. Moet ons dan nie maar soos die ongelowiges leef sodat dit met ons ook goed kan gaan nie?
Is dit nie die probleem waarmee baie gelowiges vandag nog worstel nie? Kyk net hoe goed gaan dit met baie ongelowiges. Hulle bly in luukse huise‚ ry spog motors en het baie geld in die bank. Dan lyk dit nog of hulle baie gelukkig is. Dit gaan goed in hulle huise. Hulle is populêr en geniet selfs hoë aansien in die gemeenskap. Dit kan nie ontken of misgekyk word nie. Terselfdertyd is dit so dat baie diep gelowiges baie swaar kry‚ finansieel sukkel‚ teenspoed beleef‚ spanning in die gesinslewe ervaar‚ teenspoed by die werk kry en so aan. Ook dit is ’n feit wat nie ontken kan word nie en ’n werklikheid wat nie misgekyk kan word nie. Geen wonder nie dat die vraag opkom: watter nut het dit om God te dien?
Maar die Here sê vir hulle in vers 13‚ nee‚ julle het vermetele dinge oor my kwytgeraak. En dan noem Hy twee redes waarom Hy sê dat dit wat die volk gesê het nie waar is nie.
Die eerste rede wat die Here gee is dat daar ’n gedenkboek is waarin die name opgeskryf is van diegene wat eerbied vir die Here het. Kom ons kyk vir ’n oomblik daarna. Die saak wat hier in Maleagi 3:16 beklemtoon word‚ is dat die Here nie onbetrokke is by wat op aarde gebeur soos wat die volk impliseer nie‚ maar dat alles in ’n boek opgeskryf is voor die Here sodat Hy wel deeglik bewus is van alles wat gebeur. Die swaarkry‚ die onsekerheid en ook die skeptiese vrae van gelowiges gaan nie by die Here verby nie.
Die tweede rede wat die Here noem is dat sy volk vir Hom ’n kosbare besitting is. ’n Kosbare besitting wat opgepas en gekoester word. ’n Kosbare besitting waaraan groot waarde geheg word. In Sagaria lees ons dat die Here sê dat dié wat Hom liefhet, kosbaar is en sy oogappel is (Sagaria 2:8).
Dit is ’n besondere woord wat hier gebruik word‚ so besonders dat ’n mens maar hierdie een Hebreeuse woord kan deel maak van jou woordeskat. Dit is die woord segulla. ’n Segulla is ’n begrip wat ’n kosbare persoonlike eiendom aandui. ’n Meisie wat verloof is sou na haar verloofring kon verwys as haar segulla‚ ’n kosbare en duursame eiendom wat vir haar baie beteken. Die term segulla is veral ’n verbondsterm om die verhouding tussen die Here en sy volk uit te druk. Destyds by die berg Sinaï het die Here‚ voordat Hy die Tien Gebooie aan Moses gegee het‚ vir die Israeliete gesê hulle is vir Hom sy segulla‚ sy persoonlike en duursame eiendom wat Hy vir hom verwerf het (Eks. 19:5). In Deuteronomium 7:6 en 14:2 word die term met die woord “eiendomsvolk” vertaal; Israel is die Here se eiendomsvolk.
Die Here wil dus sy volk bemoedig deur hulle te verseker van sy betrokkenheid by hulle omstandighede. Hy hoor‚ Hy slaan ag op hulle omstandighede‚ daar is ’n gedenkboek met hulle name in waardeur hulle as ’t ware voortdurend onder die Here se aandag is en hulle bly Sy kosbare en duur eiendom wat hulle al sedert die sluiting van die verbond is.
Nêrens in die Bybel lees ons dat die Here beloof dat dit altyd net goed sal gaan met sy kinders nie. Trouens‚ blaai ons deur die Bybel‚ is dit opvallend hoe dikwels dit met die gelowiges sleg gegaan het. Wie die Here dien sodat dit met hom goed kan gaan‚ sal bedroë daarvan afkom. Trouens‚ dit is verkeerd om te dink dat as ons die Here dien‚ dit met ons goed sal of móét gaan. As mense die Here dien sodat dit met hulle goed kan gaan‚ maak hulle van die Here ’n afgod en van sy diens afgodsdiens. Een wesensverskil tussen die diens van afgode en die diens van die Here is daarin geleë dat dit in afgodediens om die mens gaan. Die mens dien die gode sodat dit met die mens goed kan gaan. In die Bybelse tyd het die mense vir die gode offers gebring sodat die gode hulle kan help. Jy bring ’n offer sodat die god jou uit die verknorsing kan help, of in oorlog, of vir jou vrugbaarheid kan gee. Die mens staan dus in die sentrum.
In die aanbidding van die Here staan die Here sentraal. Ons dien Hom omdat Hy ons Here en ons God is. Ons dien Hom omdat hy ons liefhet en ons Hom liefhet. Is dit nie wat die vriende van Daniël ons leer nie? Toe hulle voor die brandende vuuroond staan en die koning hulle ’n laaste kans gee‚ antwoord hulle dat die Here by magte is om hulle te red. Maar‚ sê hulle‚ selfs al red Hy ons nie‚ sal ons Hom nog dien. Hulle dien Hom nie sodat Hy hulle moet red nie. Hulle dien Hom ongeag of Hy hulle uit die vuuroond of van die gewisse dood sal red of nie. Is dit nie wat ons ook elders so dikwels leer nie. Ons mag die Here nie voorwaardelik dien nie. Nie omdat Hy ons sal help of vir ons voorspoed sal besorg nie. Nee‚ ons moet Hom dien net omdat Hy die Here is!
Nou verstaan jy – al is ons afgetakel … God is my sterkte. Nie my eie geloof nie. Nie my eie geesteskrag nie. God. Hieraan moet ons vashou in die dae wanneer die ‘waaroms’ nie wil wyk nie‚ wanneer die ‘hoekoms’ weer om elke hoek en draai voor ons wil kom inspring. Dit mag ons bely deur al die onbillikhede en al die onregverdighede van die lewe heen: daar is Een wat groter is as die onregverdighede‚ groter as die onbillikhede wat daagliks soos haelstene op ons kop neerreën. Een wat ons elke keer weer verlos‚ al sterf ons daagliks ’n duisend dode na liggaam en gees. Wat ons uiteindelik‚ ook deur ons aftakeling heen‚ in ere by Hom sal opneem (vgl. Ps. 73:24).
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css