Die Weg

Verskrompel, maar nie verbrand
Callie Opperman

“Ek het verskrompel soos ’n velsak in die rook, maar u voorskrifte het ek nie verontagsaam nie.” (Psalm 119:83).

Die Psalms het sulke treffende beskrywings. Soos hierdie simboliek: “Ek het verskrompel soos ‘n velsak in die rook”. Vel is hardgemaak om dig te kan wees sodat dit kan dien as `n wynsak. Daarvoor is dit in rook gehang, sodat die hitte en rook die tekstuur kon verander om geskik te wees. Dit het verskrompel.

So gaan die mens soms deur tye van nood, met teenstanders wat jou afkraak, moeilike omstandighede wat jou energie tap, beproewings wat soos rook en hitte verskrompel. Dit breek egter nie af nie, maar versterk jou geestelik.

As dit papier was wat in die rook gehang het, sou dit dalk eerder vergaan het. Vel is egter die regte samestelling om te kan verskrompel en sterker te word. Watter samestelling moet ‘n mens hê om nie te vergaan onder beproewing nie? Wie is dit wat sterker anderkant uitkom? Die psalmdigter skryf: “u voorskrifte het ek nie verontagsaam nie”. Wie die woord van God in sy of haar hart dra, wie aanhou doen wat reg is in die oë van die Here, wat die leiding van die lewendmakende Gees volg, sal nie verbrand nie, maar innerlik groei.

Vir Josua het die Here gesê: “Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan. Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.” (Josua 1:7-8) Deur hom aan God se voorskrifte te hou, sou Josua die moeilike taak kon volvoer. Die vuurrook van teenstanders sou dan sy verhouding met God sterker maak, sodat Hy voorspoedig kon wees in sy roeping.

Die voorskrifte van God is vir ons oorgelewer in die Heilige Skrif. Die Heilige Gees graveer dit elke maal wanneer ons daaruit lees en dit oordink dieper op ons harte. Dan sal teenspoed, gevaar en lyding ons verskrompel, maar nie vernietig nie. Louter, maar nie verbrand nie.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css