Tevredenheid
Hentie Krüger
www.midweek.co.za
“Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie‚ Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie‚ dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het‚ so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here‚ Israel‚ nou en vir altyd.”
— Psalm 131 —
Ons mag oor baie dinge verskil. Maar as daar een ding is waaroor ons almal seker sal saamstem‚ dan is dit dat ons almal rus en kalmte verlang. Die lewe is deesdae so gejaagd. Daar gebeur so baie dinge wat ons onrustig maak? Ons raak al meer gespanne. Angs en depressie het kenmerkend van ons tyd geword. Hoe verlang ons nie dat alles net rustig en kalm sal verloop nie. Is dit nie een van die redes dat ons telkens uitsien na ’n vakansie wanneer ons net weer tot stilstand kan kom nie?
Die meeste van ons voel dikwels asof ons rondgestoot word. Ons voel asof ons nie tot ons reg kom nie. Ons word misbruik deur kollegas en huismense. Alhoewel ons vaagweg bewus is van groot potensiaal binne-in ons‚ kom dit om een of ander rede nie tot sy reg nie. In verhoudinge word ons misken en ons word meestal oor die hoof gesien as dit kom by promosie en pryse wat uitgedeel word. Ons ervaar baie keer pessimisme en ’n algemene gevoel van moedeloosheid oor die toestand van die wêreld rondom ons. Ons kan nogal identifiseer met die beeld in vers 4 van Psalm 62 (voel soos ’n muur wat wil omval).
… ’n man wat reeds is soos ’n muur wat wil omval‚ ’n klipmuur wat omgestoot word?
Maar dan‚ van tyd tot tyd‚ is daar iemand wat (amper dweperig) vertel hoe wonderlik dit is om mens te wees; vertel wat die potensiaal is wat in ons opgesluit is. So iemand hou ’n toespraak‚ of bied ’n kursus of seminaar aan‚ of skryf ’n boek‚ of stig ’n kerk en inspireer ’n klomp mense. Daar word vertel van ongekende suksesse wat sommige mense êrens op ander plekke bereik het. Daar word vertel van die wondere van die menslike brein‚ van hoe groot die moontlikhede daarvan is en hoe onderbenut ons dit laat. Daar word seminare en kursusse aangebied oor hoe ’n mens ’n wenner kan wees. Deur eenvoudige programme te volg kan jy jou liggaam en jou psige tot ongekende hoogtes laat ontwikkel. Jy behoort een van die hoogs suksesvolle mense in die samelewing te wees. Al wat jy moet doen is om sewe eenvoudige gewoontes aan te leer. Die boodskap is duidelik: Hou op om toe te laat dat jy misbruik word en moenie dat mense op jou trap nie. Jy is veronderstel om ’n “VIP-persoon” te wees en kyk waar sit jy en sukkel. Raak ’n bietjie selfgeldend en eis jou regte op.
Hierdie is ’n baie bekende boodskap in ons tyd. Mens hoor dit met verskillende variasies op verskillende plekke. Ons kry dit in as populêre sielkunde deur “bestseller”-boeke en glanstydskrifte. Dit is soms in die baadjie van finansies en besigheid en baie keer in die baadjie van godsdiens. En dit hou nooit op nie. Ons word byna dag en nag gebombardeer met die evangelie van selfgeldenheid: Neem beheer oor jou lewe‚ oor jou verhoudinge oor jou gewoontes. Jy kan ewig jonk en aantreklik; suksesvol‚ “with it” en modieus wees. Dit hang alles net van jou af. Êrens binne-in jou is die antwoord. Dit moet net ontsluit word deur ’n paar korrekte stappe te neem. Sluit aan by ’n “gym”‚ lees Steven Covey se boek‚ sluit aan by die regte groep‚ spandeer die regte hoeveelheid tyd met jou vrou elke week … en siedaar: daar stap as ’t ware ’n nuwe mens uit jou uit.
Dis ’n aantreklike evangelie vir mense wat ly onder ’n swak selfbeeld‚ mense wat voel hulle word armer in plaas van ryker‚ mense wat moeg en misbruik voel. Hoe is dit dan dat met so ’n groot behoefte en met so ’n suksesboodskap‚ dinge so onheilspellend dieselfde bly? Waarom ontglip die sukses die meeste van ons en bly dit verskuil tussen die kleurvolle bladsye van die tydskrif en woon die ware suksesvolles op ander kontinente? Weet jy waarom? Omdat dit ’n valse evangelie is – hierdie evangelie van selfgeldendheid en die ontwikkeling van eie potensiaal. Die ware evangelie wat ons in die Bybel vind (en hier in Ps. 131) klink mos wesenlik anders.
Net by God vind ons ware tevredenheid!
Ons het ’n prestasie georiënteerde samelewing geword. Mense word beoordeel op grond van wat hulle bereik het. Daar is niks verkeerds om na beter te strewe nie. Ons het mos die opdrag om te werk en ons bes te lewer. Om niks om te gee nie en sommer net Gods water oor Gods akker te laat loop‚ is nie goed nie. Maar ons moet versigtig wees. Dit gebeur al te dikwels dat mense wat na hoë posisies streef‚ nie optree in ooreenstemming met die gebod van liefde nie. Ander word vertrap op pad boontoe. Eie belange word bo alle ander dinge gestel. Die strewe na mag het nou eenmaal ’n verskriklik vernietigende uitwerking. ’n Hoë posisie is nie al wat saak maak nie. Mens kan meer verloor as wat jy wen. Jy kan dalk eindig met ’n belangrike en hoë posisie‚ maar rus en kalmte verloor. Jy kan dalk baie bereik en tog ’n baie arm mens word. Dit is waarteen Psalm 131 ons waarsku.
Die Psalmis het ook na rus en kalmte verlang. Maar meer. Dis nie vir hom ’n onbereikbare droom nie. Hy het rus en kalmte gevind. As hy dit kon vind‚ kan ons seker ook. Hoe en waar het hy rus en kalmte gevind?
Die Psalmis begin met ’n belydenis oor sy ingesteldheid. Waarna het hy gestreef? Wat was sy doelwit in die lewe? Miskien moet ons vra wat nie by hom hoë prioriteit geniet het nie. Hy begin deur te sê: “Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie‚ Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie‚ dinge wat bo my vermoë is.”
Dit gaan dus om die ingesteldheid‚ houding en dade van die digter. Met ander woorde oor sy hele lewe. Sy totale lewe reflekteer nie ’n gesindheid van hoogmoed en selfverheffing en strewe na groot en belangrike dinge nie.
Hy kan sing omdat hy tevredenheid gevind het. Hy is tevrede soos ’n “gespeende kind by sy moeder tevrede is.” Ongelukkig is die woord (gamal) nie in die 1983-vertaling vertaal nie. Maar alle klem val in die Hebreeus op “gespeen.” Hoekom?
Want om ’n kind te speen is nie ’n maklike proses nie. Dit word meestal met weerstand deur die kind begroet; soms word daar baie gehuil‚ soms met humeurige buie van die kind en dit is net so moeilik vir die mamma. Maar die kind moet geleer word om nie meer van moedersmelk afhanklik te wees nie en vaste kossies te begin eet. As ’n kind nie gespeen word nie‚ sal hy ook nooit volwasse of groot word nie.
Voordat hy gespeen is‚ is ’n kleintjie voortdurend bewus van sy moeder as die bron van sy voedsel en soek hy altyd haar borste. Nadat hy gespeen is‚ is hy egter tevrede om maar net by sy ma te wees; haar teenwoordigheid is vir hom genoeg. Voordat hy gespeen is wou Dawid net vir God gebruik tot sy voordeel‚ maar nadat hy gespeen is‚ is hy tevrede om net by die Here te wees.
Om die teenoorgestelde van rusteloosheid uit te druk‚ gebruik hy in vers 2a ’n werkwoord wat beteken: glad‚ gelykmaak‚ soos grond gelykgemaak word voordat ’n boer saai (Heb. shiwa). Die gedagte word versterk deur nog ’n werkwoord wat ons met “stilmaak”‚ “kalmeer” kan weergee. Die hoogmoedige word nederig en ootmoedig en sy rusteloosheid verander in rus en kalmte omdat hy sy vertroue in die Here gestel het. Die selfverheffing en hoogmoed maak plek vir rus en kalmte‚ want die nederige vertrou net op die Here.
Die antwoord vir lewenstevredenheid lê in stil vertroue op die Here (Ps. 37:7; Ps. 62:2; Jes. 30:15) selfs te midde van ’n gejaagde lewenstempo (Ps. 3:6-7).
Die psalmis het tevredenheid gevind. Dit maak nie dat hy nou terug sit en niks doen nie. Nee‚ hy tree daadkragtig op. Hy roep sy geloofsgenote en volksgenote op om hom hierin na te volg. Hy roep hulle op: Wag op die werke‚ Israel‚ nou en vir altyd. By die Here vind ons rus en kalmte. Aan sy bors kan ons tevredenheid vind. Ons moet ons hoop op Hom vestig. Op Hom moet ons wag. Na Hom moet ons roep. By en in Hom vind ons die sin van die lewe.
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css