Swaarkry - Jou weg deur die lewe
Dr Callie Opperman
www.gkws.iway.na
“Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord.
Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.” (Psalm 119:67,71)
Swaarkry is vir niemand aangenaam nie, ook nie maklik nie. Dit kan op verskillende maniere swaar gaan in die lewe – finansieel, swak gesondheid, vervolging, op geestelike terrein, emosioneel, sielkundig, ens. Ons reaksie op swaarkry is dikwels ook nie baie positief nie. Ons verstaan baie keer nie waarom iets oor ons pad kom nie. Soms bid ons, maar kry nie duidelike antwoorde nie. Dit is moeilik om by ‘n punt van innerlike vrede en berusting te kom.
Die Here koppel dikwels swaarkry aan ons verhouding met sy gebooie, soos in die aangehaalde verse hierbo gelees kan word. Eers lees ons: “Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord.” Die swaarkry kan jou na die woord van die Here terugbring. Jou dwalinge is soms juis vanweë jou ongehoorsaamheid aan die woord! Ek kan bv. onverskillig met my geld omgaan en geen goeie rentmeester in diens van God wees nie. Dit kan lei tot geldnood, met al die swaarkry daarmee saam. Sulke swaarkry kan my terugbring by God se beginsels vir die hantering van my materiële bates, waarvoor God my verantwoordelik gemaak het. Dit kan in ander gevalle van swaarkry ook positiewe gevolge hê. Daarvoor kan die Here gedank word.
Dieselfde gedagte lê agter die verklaring: “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.” Dit klink teenstrydig! Hoe kan dit goed gaan wanneer ek swaarkry? Wanneer die vrug van die swaarkry goed is – om God se voorskrifte te leer – dan was swaarkry tot my voordeel. Dit is tog ‘n algemeen bekende ervaring dat goedgaan dikwels na afvalligheid lei. Swaarkry louter, maak ons skoon van ‘n onrein lewe, stroop ons van verkeerde prioriteite, bring ons terug na God en sy voorskrifte.
Soek in jou swaarkry na die positiewe vrug om God deur sy voorskrifte beter te leer ken. Daarin lê die sin van die lewe, daardeur gee die Here koers aan ons lewe in ‘n verwarrende wêreld.
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css