Profesieë – Die waarheid agter Jesus Christus.
Jan Brink
Die mens wil nou eenmaal in die toekoms probeer sien. Daarom raadpleeg hulle fortuinvertellers en lees graag die boeke oor die voorspellings van Nostradamus en Siener van Rensburg. Baie mense het ‘n diep geloof in hulle voorspellings soos dit deur “kundiges” uitgelê is.
Daar is egter één boek wat profesieë bevat wat alle ander profesieë en voorspellings, van watter skrywer en geleerde ookal, oorskadu. Ek praat natuurlik van die Bybel. Die Bybel bevat die profesieë soos deur God ingegee ten behoewe van die mens.
Daar is verskillende profesieë in die Bybel. Die meeste handel oor die eerste koms en ook die wederkoms van Jesus Christus aan die einde van die tyd. Dit loop soos ‘n goue draad deur die Bybel vanaf Genesis tot by Openbaring. Baie van die profesieë het al in vervulling gegaan, maar ander wys nog op die toekoms.
Eintlik handel die hele Bybel van die begin tot die einde oor Jesus Christus en ons verlossing. Die Bybel is in twee testamente saamgevat: die Ou en Nuwe Testament of die Ou- en Nuwe Verbond van God met die mens. Die Ou Testament begin by Genesis en eindig nie regtig by Maleagi nie, maar by Mattheus 27:51 (Markus 15:38, Lukas 23:45). Met Christus se sterwe as mens, toe die voorhangsel van die tempel middeldeur geskeur het, het die Nuwe Verbond of Nuwe Testament in werking getree. Daar was letterlik drie ure van duisternis tussen die twee verbonde, toe Christus aan die kruishout gehang het!
Ek wil in hierdie artikel die aandag net vestig op die Ou Testamentiese profesieë met betrekking tot die menswording van Jesus Christus, Sy kruisdood en Sy verheerliking. Dit is ‘n meer breedvoerige beskrywing as ‘n vorige artikel wat elders op hierdie webwerf te vinde is (Paasfees: Jesus Christus Waar of Vals?).
Wanneer ons die Ou Testament lees, moet ons dit met oop oë doen. As ons alles in konteks lees en met mekaar in verband bring, sien ons die profetiese boodskap van die Ou Testament. Sekere profesieë is werklik die gesproke of geskrewe woord soos dit deur die profete aangekondig is. Ander is handelinge en dalk nie so duidelik nie.
Die 1953 vertaling van die Afrikaanse Bybel en die 1984 vertaling van die Duitse Lutherbybel word as bronne gebruik. Laasgenoemde Bybel word deur die Evangeliese kerke in Duitsland gebruik en stem grootliks ooreen met die 1953 Afrikaanse vertaling.
Die Moederbelofte
Kom ons begin by Genesis. Wat belangrik is, is dat ons die eerste 3 hoofstukke van Genesis moet saam lees met Openbaring.
Openbaring gee die waarskuwing: Openbaring 12:9: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp”.
Ons begin dus by Genesis 3 vers 15. Dit staan ook bekend as die moederbelofte. Die essensie van hierdie vers is dat daar vyandskap gestel word tussen die saad van die vrou (dit is Christus wat uit die vrou gebore sou word) en die saad van Satan. Die Satan byt jou aan die hakskeen. Hy het ‘n knaende aanval wanneer jy hom nie sien nie en nie verwag nie. Maar Christus sal hom uiteindelik vernietig. (Lees gerus ook hier meer oor die moederbelofte)
Belofte aan Abram/Abraham
Abraham was nie alleen die stamvader van Israel nie, maar ook die geestelike stamvader van alle gelowiges. Ons sien in Genesis 12 reeds die eerste stap vir die voorbereiding van Christus se koms:
Genesis 12:1-3: “En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”
Dieselfde woorde word weer in Genesis 22:18 bevestig as die HERE vir Abraham sê: “En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het”.
Maar daar is iets meer in Genesis 22:2: "Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys". Ongeveer 2000 jaar later sou Jesus Christus hier op Moria die finale offer bring. (2 Kronieke 3:1: “En Salomo het die huis van die HERE begin bou in Jerusalem op die berg Moría waar Hy aan sy vader Dawid verskyn het, op die plek wat Dawid reggemaak het op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet”.)
Belofte aan Isak
Die belofte van die HERE aan Abraham word weer aan Isak herhaal. In Genesis 26:4 lees ons weer “….. en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word”.
Belofte aan Jakob
Die belofte word eweneens aan Jakob herhaal. Genesis 28:14: “en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word”.
Jakob se seën aan Juda
Hierdie seën wat Jakob oor sy seun Juda uitgespreek het, is ‘n duidelike profesie dat uit sy nageslag die Christus gebore sou word. Genesis 49:10: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees”.
Die uittog na 400 jaar van onderdrukking in Egipte
Hierdie is sekerlik een van die duidelikste profesieë. Dit hou ook só verband met ons lewe vandag. Die Israeliete sou in die tyd wat hulle in die woestyn moes deurbring tog so verlang na die materialistiese bestaan in Egipte, nieteenstaande die onderdrukking; na die vleispotte van Egipte. Dit is tog so moeilik om verlos te wees!
Dit is juis hierdie uittog van Egipte wat dui op die uiteindelike verlossing, uit die slawerny van Satan, deur die bloed van die Paaslam. Dit is juis hier waar Pasga (Paasfees) sy ontstaan het. Die bloed van die paaslam beteken lewe. Die paaslam is ‘n heenwyse op Christus. (Ons lees in Genesis dat die bloed met die siel geassosieer word). Hierdie paaslam wat geslag is moes sonder gebrek wees. Eeue later sou daar met Pasga weer ‘n Lam sonder gebrek geslag word ter bevryding van ons slawerny van Satan.
Moses
Moses was die middelaar van die Ou Verbond. Hy het tussen God en die volk gestaan. Jesus Christus is die Middelaar van die Nuwe Verbond. In sy middelaarskap profeteer Moses in die afskeidsrede aan sy volk soos volg:
Deuteronomium 18:15 :” 'n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister –“. Dit word weer in die Nuwe Testament bevestig in Handelinge 7:37 “Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle 'n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister”.
Die Handelinge van die hoëpriester en die jaarlikse versoening; die voorhangsel en die tabernakel
Die wette met betrekking tot die handelinge van die hoëpriester en die jaarlikse versoening met die bloed soos in Levitikus 16 opgeteken, wys natuurlik uitdruklik na Jesus Christus. Ons vind weereens ‘n verwysing daarna in die Nuwe Testament in Hebreërs 9:11 “Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring”.
Onthou ook dat daar ‘n voorhangsel was waar agter die hoëpriester sy versoeningshandelinge uitgevoer het. Nou lees ons ook dat met die kruisiging van Jesus Christus, die voorhangsel van die tempel in twee geskeur het, sodat ons nou ook toegang tot hierdie heiligdom het. Die begin van die Nuwe Verbond.
Die profesie van Bíleam, seun van Beor, oor Israel
In hierdie interessante stukkie geskiedenis in Numeri 24, waar Bíleam vir Israel seën, spreek hy hierdie woorde: (Numeri 24:17). “Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie: ‘n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ‘n septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver”. In Mattheus 2:1 lees ons die wyse manne se woorde: .”...Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys”.
Dawid
Dawid was nie alleen koning nie, maar hy was ook ‘n profeet. Sy profetiese boodskappe vind uiting in die baie psalms wat hy gedig het. (Ongelukkig kom hierdie profesieë nie so duidelik in die nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel uit nie. Die ou vertaling en veral die 1984 Duitse Lutherse vertaling, is veel duideliker).
Psalm 2 is een van die meer bekendes. Psalm 2:7: ”Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer”. Hierdie vers word 3 keer in die nuwe testament herhaal. Een keer in Handelinge en twee keer in Hebreërs (Handeling 13:33, Hebreërs 1:5 en 5:5).
In Psalm 45 word daar verwys na die verheerlikte, opgestane Christus. Veral vers 7: “U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle”. (Hier word verwys na die feit dat Jesus Christus self God is en deel is van God).
Dit is ook baie duidelik in Psalm 110. Hy is ook die Hoëpriester van die Nuwe Verbond. Ps110:4: “Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.” Dít kon Hy alleen verkry na Sy opstanding en verheerliking. Hy is die Hoëpriester wat nou vir ons intree, soos wat die hoëpriester van die Ou Verbond dit gedoen het (vergelyk Levitikus 16). Lees ook gerus Mattheus 22: 41-45.
Psalm 118: 22-23 “Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword. Dit het van die HERE gekom; dit is wonderbaar in ons oë.” Die Here Jesus verwys in Mattheus 21:42 na hierdie Psalm as Hy aan die owerpriesters en die ouderlinge sê: “Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë?”
Jesaja
Jesaja is dié profeet wat die meeste in die Nuwe Testament aangehaal word (21 keer) Hier is enkele verse uit Jesaja:
Jesaja 7:14: “Daarom sal die HERE self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem”. In Mattheus 1:20 – 23 lees ons van die verskyning van die engel aan Josef met dié woorde: “Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos”. En dan die belangrike deel: “En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.”
Die profesie in Jesaja 8:23 tot Jesaja 9:6, maar veral die woorde uit Jesaja 9:6 is tekenend van Jesus Christus se Goddelikheid wat van ewigheid tot ewigheid bestaan: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—“. Daar word ook weer terug verwys na Jesaja 8:23 tot 9:1 in Mattheus 4:15-16.
Jesaja 42:1-4. “Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring. Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie; en die eilande wag op sy leer”. In Mattheus 12:17-21 word hierdie profesie weer aangehaal.
Jesaja 53 en dan ook veral vers:5 dui op Jesus Christus se kruisiging en ons verlossing: “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom”.( Jesaja 53 word ook die Evangelie van die Ou Testament genoem.)
Jeremia
Jeremia 23:5-6: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID”.
Daniël
Daniël 7:13 – 14 wys na die eindtyd en die wederkoms van die opgestane Christus. Dit moet ook weer saam met die boek Openbaring gelees word: “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”
Miga
Miga 5 kan gerus ook saam met Johannes 1 gelees word. Hier volg ‘n gedeeltelike aanhaling van Johannes 1:
“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
Hy was in die begin by God.
Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.
Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.
Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie.
Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie".
Kyk nou gerus na Miga 5:2 “En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid”.
Let asseblief op die laaste deel “sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid”. Daar is dus één ding waaroor ons duidelikheid moet kry. Jesus Christus is nie 2000 jaar gelede “geskep” nie. Ons moet Sy geboorte beskou as Sy vleeswording. Hy was voor die grondlegging van die wêreld af, van die begin af, by God en was self ook God.
Johannes 14:1-11: “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.
Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.
Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self”.
Sagaria
In Mattheus 21:4 - 5 lees ons: “En dit het alles gebeur, sodat vervul sou word die woord wat deur die profeet gespreek is: Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op ‘n esel, ja, ‘n jong esel, die vul van ‘n pakdier”. Hier word natuurlik verwys na Sagaria 9:9 “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel—op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin”.
Sagaria 11:12 -13 moet saam gelees word met Mattheus 27: 1- 10. Hierdie profetiese woorde wys na die verraad van Judas. Sagaria 11:13 “Hierop sê die HERE vir my: Gooi dit vir die pottebakker—die heerlike prys waarmee Ek deur hulle gewaardeer is! En ek het die dertig sikkels silwer geneem en dit in die huis van die HERE vir die pottebakker gegooi”.
Sagaria 12 verwys na sowel die kruisiging as die opgestane verheerlikte Christus en die uitstorting van die Heilige Gees in een vers. (Vergelyk ook Johannes 19:37). Sagaria 12:10: “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos 'n mens rouklaag oor 'n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos 'n mens bitterlik ween oor 'n eersgebore kind”.
Maleagi
Maleagi 3 verwys na Johannes die Doper en die koms van Jesus Christus. Vergelyk ook Mattheus 11:10-14, Markus 1:1 en Lukas 1:17.
Die Here Jesus profeteer met betrekking tot Homself.
Soos hierbo aangedui eindig die Ou Testament of Ou Verbond by Sy vleeslike dood aan die kruis (Mattheus 27:51). Die Here Jesus kán as Profeet ook oor Homself profeteer. Hy profeteer in die aangehaalde verse hieronder van Sy lyding, kruisiging, dood, opstanding, verheerliking en wederkoms.
Mattheus 12:40: “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees”.
Mattheus 16:21-28: “Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word. Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense..
"Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade”.
Mattheus 17:9b: “En onderwyl hulle van die berg afklim, het Jesus hulle bevel gegee en gesê: Julle moet vir niemand iets van die gesig sê voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie”.
Mattheus 17:22 -23: “En terwyl hulle in Galiléa rondgaan, het Jesus vir hulle gesê: Die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van die mense; en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy opstaan. En hulle het baie bedroef geword.”
Mattheus 19:28: “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel.”
Mattheus 20: 17-19: “En toe Jesus opgaan na Jerusalem, het Hy die twaalf dissipels op die pad alleen geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en skrifgeleerdes; en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene om Hom te bespot en te gésel en te kruisig; en op die derde dag sal Hy opstaan.”
Mattheus 20:28: “...net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.”
In Mattheus 24:30 profeteer Hy aangaande Sy wederkoms. “En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”
Hierdie profesie word voortgesit in Mattheus 25 vanaf vers 31. Ek haal net vers 31 en 32 hier aan: “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei;”
Die profetiese woorde van Mattheus 26 vers 2 bring ons uiteindelik by die Pasga wat eeue tevore by die uittog uit Egipteland ingestel is. “Julle weet dat oor twee dae die pasga kom, dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.”
Die woorde van die Here Jesus soos opgeskryf in Mattheus 26:28 bring ons dan by die volle waarheid van alles wat hierbo geskrywe staan: “Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes". Dit word dan opgevolg met Sy opstandings- en verheerlikingsprofesie: “ Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.”
In Mattheus 26:64 profeteer Hy in verband met Sy wederkoms: “Jesus antwoord hom: U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel”.
Slotsom
Hier eindig dan die profesieë van die Ou Testament. Met die dood van Jesus Christus het die Ou Testament of Ou Verbond tot sy einde gekom. Daar is nou ‘n Nuwe Testament opgestel, geskryf in die bloed van Christus, wat die ewige lewe skenk aan dié wat in Hom glo. Die ewige Offerlam is op die laaste Pasga geslag en daarmee het Hy ook die Hoëpriesterskap aanvaar waardeur ons ook toegang tot die Vader ontvang. Die moederbelofte van Genesis 3:15 is gestand gedoen.
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css