Die boodskap van die Kruis – Onsin vir dié wat verlore gaan
Jan Brink
Hierdie harde woorde lees ons in 1 Korintiërs 1 vers 18. Dit behoort iedereen wat dit lees tot in sy of haar diepste wese te skok. As jy dit nie glo nie is die verderf jou voorland.
Is dit net die hedendaagse post-moderne mens wat ‘n probleem met die Kruis het?
Kom ons lees ‘n bietjie verder en sien wat 1 Korinthiërs 1 vers 22 sê. "Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God".
Die Grieke was die wysgere van daardie tyd. Filosofie en logika het die denke oorheers. Daarom was die blote feit dat iemand aan ‘n kruis vir ‘n ander ou se sondes sou sterf, natuurlik die grootste onsin.
In ons post-moderne wêreld waar alles filosofies en wetenskaplik tot sy diepste betekenis ontleed word, is dit nie anders gesteld nie. Voeg nou daarby ‘n baie materialistiese en egosentriese samelewing waarin alles om myself draai, dan kan ek dit nouliks indink dat iemand so ver sou gaan om sy lewe vir ‘n onbekende af te lê.
Geestelike teenoor vleeslike bestaan
Wat ons MOET verstaan is dat die mens sowel ‘n geestelike as ‘n vleeslike wese is. (Sommige mense is uiteraard meer vlees as gees!). Ons denke, soos dit te voorskyn kom in ons filosofie en logika, is helaas gevestig op die vleeslike. In geestelike terme is dit dwaasheid, want die kruisgebeure kan nie in vleeslike terme beskryf word nie. Want God is Gees. Sy wysheid oortref ons vleeslike dwaasheid. Johannes 4:24. "God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid".
As ons ons aandag nét op hierdie aardse bestaan vestig, en ons algeheel deel daarvan is, gaan ons so nooit as te nimmer die geestelike gebied van God betree nie.
Ons sintuie neem waar wat om ons aangaan en ons is só daarop ingestel om hierdie sintuie te bevredig dat ons ons geestelike verbintenis wat ons met God het, totaal negeer. Ons raak totaal uit sinkronisasie met die Gees van God.
Ons moet ons meer instel op ons verbintenis met God. Ons moet meer tyd met Hom deurbring en ‘n verhouding met Hom aanknoop. Hy alleen kan ons met Sy Gees daardie oortuiging gee. In die woorde van Jesus Ben Sirag (190 vC): iemand wat net oor bulle praat kan nooit hierdie wysheid bekom nie.
Hoe doen ons dit? Waar is ons vertrekpunt?
Natuurlik deur ‘n kennis van die verborge waarhede van God. Ons kan dit slegs deur ons gees ontvang. Maar dan moet ons eers vir God werklik leer ken. Waar leer ons hom ken? Uit Sy Woord – die Bybel. As ‘n mens die Bybel regtig verstaan, dan kan jy ook die geheimenis van die Kruis verstaan.
Sonder kennis is daar geen begrip.
Sonder begrip is daar geen geloof.
Sonder geloof is daar geen hoop.
Sonder hoop is daar geen toekoms, nie in hierdie wêreld en ook nie in die toekomstige wêreld nie.
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css