NIKS is vir God onmoontlik nie
Hentie Krüger
www.midweek.co.za
“Abraham en Sara was albei al baie oud‚ en Sara was verby die ouderdom van kinders in die wêreld bring … Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom lag Sara? Waarom dink sy: sal ek werklik ’n kind in die wêreld bring noudat ek oud is? Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara ’n seun hê.”
— Genesis 18:11‚ 13-14 —
“Die Here gee niks meer vir my om nie. Hoekom laat Hy toe dat hierdie slegte dinge met my gebeur?” Het jy dalk al soortgelyke woorde kwytgeraak? Of dit miskien stilletjies gedink? Jy is nie alleen as jy so voel nie. Baie ander mense dink ook so. Selfs in die Bybel lees ons van mense wat die Here van onregverdigheid beskuldig het.
Maar voordat jy God in die beskuldigde bank plaas moet jy onthou dat ’n mens jou maklik kan blindstaar teen jou eie omstandighede. Dan herhaal jy maklik daardie immergroen klagte van ander mense: “Die Here het van my vergeet. Hy gee nie meer om nie.” Dit is eenvoudig nie waar nie! Jy mag nooit God se nabyheid of sy afstand meet aan jou eie gevoelens of omstandighede nie. Moenie dink dat God regtig ver van jou af is net omdat jy so voel nie. Moenie uit jou swaarkry aflei dat Hy van jou vergeet het nie. Want God laat jou nie in die steek as dit die slag rof gaan met jou nie. Hy laat jou nie deur sy vingers glip as die lewenstorms rondom jou woed nie. Skeur nou dadelik daardie bedankingsbriefie op wat jy in die geheim voor God se deur wil gaan neersit. Laat staan jou verwyte teen die hemel‚ want dit is nie waar nie. Kry asseblief vandag die regte feite by God self!
Luister nuut saam met my na Abraham en Sara se verhaal en kry die regte feite oor God!
In die Abraham-verhaal leer ons God ken as die God van groot en heerlike beloftes. Telkens wanneer God met Abraham in gesprek tree‚ oorweldig Hy hom as ’t ware met die opwindende belofte in verband met ’n nageslag. Die Here belowe vir Abraham kinders. Maar nou staan die tyd nie stil nie. Dis ’n belofte waarop ’n mens nie onbepaald kan wag nie.
Abraham en Sara het bekommerd begin raak en toe het Sara besluit om self hand by te sit. Sy oorreed vir Abraham om die Hagar-eksperiment uit te voer. Deur die kind wat hy by Hagar verwek‚ wou Abraham (en Sara) vir God “help” om sy beloftes uit te voer. Dit word gou duidelik dat hierdie eiesinnige eksperiment hoegenaamd nie God se goedkeuring wegdra nie. Toe ontmoet Hy Abraham wéér en stel Homself bekend as God‚ die Almagtige (Gen. 17:1). Die God wat alles kan doen‚ vir wie niks onmoontlik is nie.
En toe volg die Mamre-episode. Terwyl Abraham eendag in die skaduwee van sy tent teen die warmte skuiling soek‚ daag daar drie besoekers op. Abraham vervul sy rol as gasvrye Oosterling perfek. Hy laat onmiddellik ’n ete vir die besoekers voorberei. Hy weet natuurlik nog nie dat hy in der waarheid ’n aantal hemelse besoekers trakteer nie. Nog minder besef hy dat die Here self by hom vir ete aansit.
Met die maaltyd rustig aan die gang‚ maak een van die besoekers ’n sonderlinge aankondiging. Hy sê die belofte wat Abraham nou al byna vyf en twintig jaar as ’n vae en onbepaalde toekomsverwagting in sy hart omdra‚ sal binne ’n jaar in vervulling gaan. Sara gaan ’n seun hê!
Hoekom doen die Here dit? Hoekom maak Hy so met sy kinders? Ek dink ons hou te min rekening met die feit dat geloof iets is wat geléér moet word. Dit is waarskynlik omdat die meeste van ons nie juis van leer hou nie. Ons wil lewe‚ ja; ons wil “arriveer”; ons wil ons vestig en dinge begin doen! Maar ons wil nie leer van lewe en van glo nie. Dalk is dit hoekom ons so sukkel met die lewe.
’n Hele klomp dinge in die lewe saam met God maak net meer sin as ’n mens verstaan dat die geloofslewe in baie groot mate ’n leerskool is – of ons daarvan hou of nie. Ons kan baklei en kwaad wees daaroor en verseg om dit so te sien – en al wat ons daarmee gaan bereik‚ is om in die proses ons lewens verskriklik te kompliseer. Ook die verhaal van Abraham en Sara maak net baie meer sin as ’n mens dit uit hierdie hoek bekyk.
Geloof werk ongelukkig nie so dat ’n mens op ’n dag besluit om te glo en die volgende oomblik kan jy alles doen nie. Dit is wat gebeur in die verhaal van Abraham en Sara. Wat tot in hierdie stadium met hulle gebeur het‚ was ’n leerskool waar hulle hierdie proses moes deurgaan. Die wag oor die geboorte van Isak gaan presies hieroor. Dit gaan in die belofte en die geboorte van Isak oor meer as net dié kind. Dit gaan ook daaroor dat die Here God besig was om twee sondaarmense te leer wat geloof in die praktyk beteken!
Terwyl die gesprek aan die gang is‚ speel Sara luistervink. Gevolglik hoor sy dat sy (volgens die vreemdeling) oor ’n jaar ’n kind in die wêreld gaan bring. En Sara kry sommer lag. Ai‚ die mansmense darem! Dis mos net doodeenvoudig onmoontlik. “… Abraham en Sara was oud‚ ver op hulle dae; dit het met Sara nie meer volgens die reël van die vroue gegaan nie” (vers 11). Die natuur was volledig teen hulle.
Sara lag! Sou jy nie ook nie? Sara se lag is nie ’n luide‚ borrelende lag nie. Dit is ’n bar‚ bitter‚ ingehoue lag. Dis ’n seerkry-lag; ’n lag met ’n traan. Dit is die lag van ’n geloof wat só moeg geword het‚ dat dit die onmoontlike as belaglik uitlag.
Die Genesisskrywer teken nie net mooi prentjies oor geloof nie. Want geloof is nie maar ’n gladde‚ maklike weg nie. Geloof is nie maar net positiewe denke of ’n tipe jeugdige optimisme wat vir alles kans sien nie. Geloof is dikwels moeilik. Geloof is wondbaar‚ geloof is broos! In die geloofslewe word ’n mens soms moeg. Oorwinning lyk soms belaglik. Die reën bly soms weg. Die lewe proe soms bitter. Die gelowige bid soms ook: “Vader‚ as dit moontlik is‚ laat hierdie beker by my verbygaan: nogtans nie my wil nie‚ maar u wil.”
Soms lag ons bitter vir ons eie geloof – en vir God se Woord. Maar weet jy wat gebeur? Die Here hóór! Die Here hoor die bitter lag van die geloofsmoeë mens: dié mens vir wie alles te veel geword het; dié mens wat nie meer kán glo nie. Sara se geluidlose lag bereik die Here se oor.
“Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie” (Jes. 59:1).
“Waarom lag Sara?”
Wáárom?
Omdat sy hierdie storie al tevore gehoor het. Omdat sy dit al 24 jaar lank hoor!
“Waarom lag Sara?”
Wáárom?
Omdat sy dit op ’n tyd wóú glo‚ maar nou nie meer kán nie! Omdat die ganse moontlikheid nou onmoontlik geword het. Omdat die hele idee absurd en belaglik is.
Dáárom lag Sara.
Sara sou vele antwoorde op hierdie vraag kon gee. Sy sou dit in bitterheid kon uitspuug. Maar dan vra die Here ’n vraag wat Sara nié kan antwoord nie: “Is iets te buitengewoon vir die Here?” (v. 14). Die Hebreeuse woord dui op iets wat bo die menslike begrip uitgaan. Die doel van hierdie wonder wat die Here gaan doen is om sy genade aan die ontvanger bekend te maak en dit is nie bloot ’n demonstrasie van sy krag nie.
Geloof gaan verder as dit wat vir die mens moontlik lyk. Geloof stap verby die grens van die moontlike en begelei jou in die land van die absurde‚ dié onmoontlike‚ die belaglike.
Miskien moet ek en jy maar in ons eie lewe grawe en vra: Hoe diep is my geloof? Is my geloof ’n geloof in Gód? Sluit my geloof die ongekende dieptes van Gód in? Of is my geloof maar net ’n vrome benaming vir my eie beste vermoëns?
As hierdie gedeelte vir ons iets wil sê‚ is dit: Hou aan glo wanneer geloof belaglik raak. Dit is eers dán wat jy God se dieptes ontdek – dié God wat die laggende Sara vasgryp in haar uur van wankelende geloof: “Volgende jaar hierdie tyd sal Sara ’n seun hê.” Dit is aan die einde van jou krag waar God vir jou wag! Of jy nou lag en of jy gló: Wat God sê‚ sál gebeur!
Die gewese bokser‚ “Gentleman Jim” Corbett‚ was vyf jaar lank die VSA se swaargewig bokskampioen aan die einde van die vorige eeu. Hy het gesê: “Veg één ekstra rondte. Wanneer jou voete so moeg is dat jy moet terugskuifel na die middel van die kryt‚ veg nog één rondte. Wanneer jou arms so moeg is dat jy kwalik jou hande kan oplig om jouself te verdedig‚ veg nog één ekstra rondte. Wanneer jou neus bloei en jou oë dof raak – veg nog één rondte. Dit is daardie één ekstra rondte wat jou laat wén!”
Ook vir jou en vir my in die geloofskryt geld dit: Wanneer jou geloof moeg is‚ veg nog één ekstra rondte.
Gebed:
Here‚
wanneer alles rondom my woestyn word
en dit nie meer help om te huil nie …
hoor U my.
Wanneer U sien hoe alles voor my doodgeloop het‚
hoe dit doodgegaan het binne-in my …
dan is dit U wat op die regte tyd
’n nuwe pad voor my oopstoot
Sodat ek kan uitkom uit my vasgeloopte situasie.
Dan buk U af‚
en red my onder my besembos uit‚
in ’n nuwe lewe in
AMEN
Barend Vos – Uit: Gebedeboek vir die Lewe‚ Lux Verbi(BM)
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css