Die Weg

Mensekinders eintlik vir ’n Hoër Gebou bestem
Susan Maré - Bethlehem
www.proarteproduksies.co.za

DIS ’n winderige Sondag in die voorsomer van 2009. Die sandstene in die muur van ’n gebou wat as ’n nasionale gedenkwaardigheid in Suid-Afrika verklaar is, is in droewige gesprek met mekaar. Sake van die dag. Terwyl die wind om die hoeke van die gebou loei en depressiewe melodieë uitween met die rookwolke van veldvure op die horison.

Almal weet hoekom die wind hierdie tyd van die jaar móét waai, maar vandag slaan die wind yskoud teen onwillige sandstene vas. As hulle stene van vlees en bloed was, het hulle gebibber. Die wind en die seisoene is egter deel van hul langsame verwering op ’n aarde wat net tydelik gegrondves is.

Vir ’n leeftyd hou hulle die mense op die dorp dop wat naby hulle verbygaan. Soms met verwondering en verbasing. Soms met skok en teleurstelling. Soms met ’n glimlag. Ure lank bedink en bespreek hulle hierdie mensekinders se doen en late, en veral die woorde wat daagliks teen die mure van die gebou vasslaan. Woorde wat dikwels klein gevaarlike vlammetjies is wat groot vure veroorsaak en alles afbrand wat voorkom.

In 2009 is daar die gomsnuifer van Louw­straat, die karwag in Murraystraat en baie ander wat verby die ou sandsteengebou voortsnel na wie weet waarheen. Na skole, ondernemings en ander dorpe of stede. Vragmotors wat die dorp onvriendelik skel met vals toeters en ’n eiesoortige dreunmusiek maak wat geraas genoem word. Saans die baie karre by kuierplekke. Laataand mense wat effens onvas op hul voete uitkom, hul motors insukkel en dan brullend en dapper die strate inraas voordat hulle êrens by ’n huis tot noodsaaklike rus gaan kom om die volgende dag weer hul gewone dagtake met vaster tred te probeer aanpak. Vanaand kuier hulle maar weer en verdrink persoonlike probleme in ’n glas.

In bykans ’n eeu het die geluide wat die sandstene daagliks aanhoor, aangrypend verander. Eers het hulle geluister na die dowwe geluid van perdehoewe op grondstrate soos wat waens en kapkarre, getrek deur perde, van plase en ander plekke na die dorp gekom het. Later het hulle gewoond geraak aan die sagte geluid van motorenjins. Nog later aan die skel geloei van sirenes van noodvoertuie, op pad na ongelukstonele om lewens te probeer red.

Toe sê die sandstene vir mekaar: “Ons kom van die berge hier naby, van rotsagtige heuwelhange. Eeue lank het vuur en water op ons ingewerk en van ons kranse gemaak. Toe kom mensehande en het ons omgeskep in geboue waar mense kan aanbid, waar kindertjies gebore en grootgemaak word, waar handel gedryf word.

“Ons moes darem baie verduur het om in hierdie muur te kom. Kruit het ons geskeur tot in die hart, pikke het ons deurklief en gebreek en terwyl ons as vormlose klippe in die steengroef gelê het, is ons langsaam tot boublokke verwerk. Beitels is gebruik om al die fyn en ongelyke klippunte af te kap totdat ons afgerond en glad genoeg was om waardige hoekstene te word.

“Maar kyk net na die ellende van die mense hier om ons wat nog in die steengroef is. Vasgevang in die eise en politiek van die dag. Hulle het lankal vergeet dat hulle eintlik vir ’n Hoër Gebou bestem is. Vir ’n hemelse gedenkwaardigheid wat nie deur wind en weer verwoes kan word nie.

“Sal ons vir hulle bid?”

Die wind het nog vir dae en weke gewaai.

Op ’n dag het groot druppels reën op die aarde begin neerplof.

En skielik was dit weer somer.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css