Die merk van die dier is hier
Jan Brink
In Openbaring 13 en 14 lees ons van die merk van die dier. Daar is baie mense wat hierdie verse letterlik wil interpreteer as sou dit ‘n kenteken van die een of ander aard op of aan die liggaam moes wees. Ons moet egter besef dat Openbaring hier van beeldspraak gebruik maak.
(Openbaring 13:16) Hy (die Satan) verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ‘n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra en laat niemand toe om te koop of te verkoop nie, behalwe die mense wat die merk het. Die merk is die naam van die dier of die getal van sy naam.
Nou wat is hierdie merk van die dier op die regterhand of die voorkop dan?
Die regterhand is ‘n simbool van die werke van die mens. Die voorkop is ‘n simbool van die denke van die mens. Dus sal die mens in sy werke en sy denke die merk van die dier dra.
Kom ek neem voorbeelde uit ons besigheidsomgewing want dit hou direk verband met koop en verkoop.
Die smag na materiële rykdom, aansien en prestige beïnvloed grotendeels ons optrede en ons denke. Ons is slawe van die ekonomiese stelsels.
Dink ‘n bietjie aan die volgende voorbeelde:
1. Daar is ‘n term wat genoem word kantoorpolitiek. Kantoorpolitiek is die wyse waarop jy in jou werksituasie MOET optree om die korporatiewe leer te bestyg. Dit is ‘n besigheidsbeginsel. Jy mag beslis nie jou bestuurder by die werk teëgaan as hy/sy iets doen wat teen jou eie gewete indruis nie. As hy/sy ‘n spanboubyeenkoms of ‘n vergadering op ‘n Sondag wil reël moet jy daarby inval en aktief daaraan deelneem. Sou jy dit nie doen nie, dan is jou bevorderingspaadjie by die onderneming letterlik toe. Jy vorm dan nie deel van die span nie.
Kantoorpolitiek sê ook dat jy niks moet doen wat jou beeld by bestuur kan skaad nie. As jy dus iets wil doen, maar wat die groot base die harnas gaan injaag, dan kry jy iemand anders om dit vir jou te doen. Die beste is om iemand te kry wat vir jou eie posisie ‘n bedreiging sou inhou. Vertel vir jou teikenpersoon dat wat hy/sy gaan doen, vir die onderneming van groot betekenis sal wees, en waar moontlik, lê besonderse klem op dié persoon se intellektuele vermoëns. As dié persoon dan die aas sluk, sal jou posisie in die onderneming nie skade ly nie, dalk net verbeter. Jy het bereik wat jy wou én jou kollega se posisie het dan relatief tot jou eie, verswak.
2. Die groot inkopiesentrums in ons stede (Malls) het ‘n beleid dat alle winkels Sondae oop móét wees. Indien jy nie op ‘n Sondag besigheid wil doen nie omdat dit teen jou geloof indruis, moet jy vir jou ‘n ander afsetgebied soek. Val ons nou maar daarby in?
3. Jy doen sake met ‘n persoon (jou kliënt). Die kontrak met jou kliënt bepaal dat hy/sy ‘n bedrag geld aan jou teen ‘n sekere tyd sal betaal. Jy weet dat die persoon met groot finansiële probleme sit. Desnieteenstaande sleep jy die persoon hof toe en indien nodig laat jy hom/haar sekwestreer.
Ander uitsprake:
1. As ek dit nie doen nie, is ek my werk kwyt en sit ek op straat.
2. My werk dwing my om dit te doen.
3. Ek het nie nou tyd nie (vir enigiets wat met godsdiens verband hou). Die werk hou my te besig.
4. Dit is die besigheidswêreld, jy móét dit doen om daarbinne te oorleef.
5. Sondae is my beste besigheidsdag – ek kan nie dan toemaak nie.
Met die finansiële krisis wat ons nou beleef, het die wêreldleiers in die groot raadsale bymekaar gekom om hierdie krisis die hoof te bied. Daar word selfs gepraat van ‘n nuwe internasionale geldstelsel . Een opmerking het gelui: “as iemand met ‘n oplossing vir die finansiële krisis kom, sal ons hom volg, maak nie saak wie en wat hy is nie”.
Terloops, wat sou gebeur as hierdie leiers met dieselfde erns na die geestelike welsyn van hulle onderskeie bevolkings sou kyk? Hoeveel beter sou hierdie wêreld nie gewees het nie!
Wat is vir ons die belangrikste? Eerbied en gehoorsaamheid aan die Woord van God, of aan materiële belange? Hardloop ons nie maar ook agter die wêreld aan om gesien te word en in tel te wees nie, al weerspieël ons werke en denke die merk van die dier?
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css