Die Weg

Vervulling van 'n Profesie
Dr Callie Opperman
www.gkws.iway.na

Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: ...” (Matteus 1:22)

Hierdie jaar gryp die waarheid dat Jesus se koms die vervulling van profesieë is, my weer aan. Matteus, wat ‘n Jood was en heel waarskynlik die evangelie aanvanklik vir ‘n Joodse lesersgroep (kenners van die ou heilige geskrifte) bedoel het, gebruik baie kere die uitdrukking: “sodat vervul kon word wat die Here deur sy profeet gesê het ...”.

Ons lees dit by die engel se boodskap aan Maria, dat die Verlosser Jesus uit haar gebore sou word. So sou die Immanuel profesie vervul word, en is dit vervul (Jes 7:14 en 8:8; Mat 1:23). Die priesterhoofde en skrifgeleerdes kon dadelik vir Herodes antwoord oor waar die Christus gebore sou word. Die profeet Miga het mos vooruit gesê dat die herder van Israel in Bethlehem gebore sou word (Mat 2:6; Miga 5:1). Selfs die vlug van Josef, Maria en die baba Jesus na Egipte en terug om aan die moordplanne van Herodes te ontkom, is ‘n vervulling van Hosea 11:1. God het sy volk Israel uit Egipte teruggeroep, so ook die Verlosser om sy volk na die nuwe Jerusalem te lei (Mat 2:14-15). Jeremia het geprofeteer van die hartseer gekerm van moeders wie se babas en kleuters die woedende en jaloerse Herodes sou laat doodmaak (Jer 31:15; Mat 2:18). Jesus het in Nasaret gewoon, sodat vervul kon word dat die profete Hom ‘n Nasarener genoem het.

Elke keer wanneer ek lees, selfs tot by Jesus se kruisiging en opstanding, dat dit die vervulling van profesieë was, word ek getroos deur God se wyse voorsienigheid. In sy hande is die geskiedenis van die verlossing van sy kinders, wat in hierdie vyandige en goddelose wêreld moet leef, veilig. Ook jou lewenspad, wat met die weg van Jesus gekruis het, is deur Hom bepaal. Ons kan met ryke verwagting uitsien na die vervulling van die alwyse God se ander profesieë. Die volle verlossing wat kom met Jesus se tweede koms, die herskepping van die hemel en aarde, die nuwe lewe met ‘n verheerlikte liggaam vir elkeen wat in Jesus Christus glo.

Mag God ook jou oë in hierdie tyd van die Christusfees ver oor die horison laat kyk, juis omdat ons in die Woord die bevestiging het dat Hy getrou is aan sy beloftes.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css