Die Weg

Tree vir tree
Hentie Kruger
www.midweek.co.za

“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie‚ want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”    — Matteus 6:34 —

Izak de Villiers sê wanneer dit rondom ’n mens donker word‚ moet jy stadiger begin beweeg.

As dit donker word moet ’n mens stilhou. Daarin lê ook baie groot wysheid: stilhou en ’n slag goed rondkyk voordat jy dit verder waag. Maar dan moet jy met die bietjie lig tot jou beskikking een tree op ’n keer gee. Dit help nie om in terme van tien treë te dink as jy net een tree voor jou kan sien nie‚ om van kilometers nie eens te praat nie. Baie mense maak die fout om onmiddellik as ’n krisistoestand ontstaan die toekoms te probeer voorspel‚ dat dit so of so sleg gaan wees en so of so onmoontlik en ondenkbaar. Een of twee hardloop selfs na mense wat sogenaamd in die toekoms kan sien.

Wat help dit‚ en waar bring dit ’n mens? Waaroor jou moeg dink aan wat moontlik volgende jaar kan gebeur? Waarom jou kwel oor môre as vandag nog aan die gang is? Miskien moet ons maar net ’n muur om vandag bou. Bou ’n muur rondom vandag en begin weer môre met ’n nuwe muur. Met ander woorde‚ leef by die dag. Charles Lamb‚ die beroemde Engelse letterkundige en essayis uit die vorige eeu‚ het eendag by die huis gekom en alles onder bloed gevind. Sy suster‚ Mary‚ het in ’n vlaag van totale geestesontwrigting hulle ma vermoor. Mense het van alle kante by Charles aangedring om haar in ’n gestig te plaas.

Hy het geweier. So iets soos ’n gerieflike hospitaal van neuro-pasiënte in daardie tyd nie bestaan het nie. Sy suster‚ wat by tye heeltemal normaal was‚ sou aan die verskriklikste toestande denkbaar uitgelewer wees‚ in ’n donker sel‚ soos ’n dier. Ten spyte van wat sy gedoen het‚ kon hy dit nie oor sy hart kry nie. Sewe-en-twintig jaar lank het hy haar opgepas en versorg terwyl hy self verwoed moes stry teen sy eie probleem‚ alkoholisme‚ wat maar altyd onder die oppervlak gelê het.

Teen die einde van sy lewe het mense vir Charles Lamb gevra hoe hy die 27 jaar met ’n kranksinnige suster kon verduur. Hoe hy dit kon uithou om jaar in en jaar uit haar te versorg en gedurig soos ’n kind dop te hou. “Ek sou nie een jaar kon uithou nie‚” het hy geantwoord‚ “selfs nie eens ’n maand nie‚ as ek aan die tyd gedink het as maande of jare. Ek kon die jare verduur eenvoudig omdat ek elke dag op sigself geneem het‚ een dag op ’n keer. Ek was gelukkig as Mary gelukkig was‚ terwyl ek God se hulp gevra het wanneer sy in die vreemde wêreld van geestesverwarring versink het.”

Daar was dus Charles Lamb se geheim: een dag op ’n slag‚ een tree op ’n keer‚ soos die ou lied lui:

Dis nie dat ek begeer om ver te sien nie‚
net stap vir stap‚ o Heer.

Ja‚ maar dit is nie altyd waar wat ons sing nie. Ons begeer juis om ver te sien! Ons sing dat ons tevrede sal wees met die stap vir stap‚ maar diep in ons hart is daar die onstuimige vraag oor môre‚ môre … Wat gaan môre gebeur‚ en aanstaande week‚ en aanstaande jaar … ?

Ons wil ver sien‚ ten spyte van al ons vrome gesange.

Jesus het op baie plekke seker oor baie dinge gedink. Maar ek wonder of Hy Hom ooit bekommer het oor waar Hy gaan eet en slaap. Hy sê:

“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie‚ want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie” (Matt. 6:34).

Inderdaad het elke dag genoeg moeilikheid van sy eie. En genoeg vreugde‚ bloot om die skoonheid van die lelies te sien waarvan Jesus in dieselfde hoofstuk praat‚ die voëls en die gras‚ die dinge van God se skepping. Paulus het nooit gedink aan wat die môre sou bring nie. Hy was ook by uitstek ’n realis wat hom nie met fabels besig gehou het nie. Ons lees dat toe hy die ouderlinge van Filippi gegroet het‚ mense wat hy geweet het hy nooit weer sou sien nie‚ hy duidelik vir hulle gesê het dat daar waarskynlik boeie en gevangenskap op hom wag.

Maar‚ het hy dadelik bygevoeg in Handelinge 20 vers 24‚ "al is my lewe vir my kosbaar‚ reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het‚ kan klaarmaak; dit is om die evangelie van God se genade te verkondig". Op ’n ander plek sê hy vir Timoteus: “Ek het die goeie stryd gestry‚ ek het die wedloop voleindig‚ ek het die geloof behou … ”

Daardie wedloop waarvan hy praat‚ het hy nie klaargemaak deur op vlerke van engele rondom die lewensbaan te vlieg nie. Hy het nie op ’n silwer wolkie gereis nie. Of op die wieke van die wind nie. Hy moes tree vir tree sy geloofsvoete optel‚ tree vir tree rondom die baan gaan‚ tree vir tree die Here volg‚ tree vir tree‚ dag na dag. Want dit is die enigste manier om die wenpaal te bereik waarvan Paulus praat.

Dit bring ’n mens by die moeilike kwessie van geloof‚ moeilik omdat ons dit met allerhande groot terme moeilik maak. Geloof is om nie eintlik duidelik te weet waarheen jy op pad is nie‚ maar om in elk geval God te vertrou en te gaan.

’n Mens maak dikwels die fout‚ en miskien is ons era van tegniek hierin die groot sondaar‚ om te dink dat alles sommer maklik meganies gedoen kan word‚ dat die lewe soos een van die roltrappe in ons groot supermarkte is: jy kan maar net opklim met jou pakkies, en die trap dra jou gemaklik na bo. Dit is nie so eenvoudig nie: die lewe is ’n gewone‚ outydse trap‚ waarteen ons dag na dag uitklim‚ dikwels stadig en dikwels pynlik. Maar die verskil lê vir die gelowige hierin dat God die Vader ons langs die trap ophelp‚ stappie vir stappie.

Die versoeking is gedurig daar om tou op te gooi‚ om te kyk na die uitgestrekte‚ eindelose duine en te wonder waarheen op aarde jy op pad is. Maar God sorg vir die manna elke dag‚ net genoeg vir die dag‚ niks meer nie. En teen die aand vlieg kwartels so laag verby dat ’n mens hulle met die hand kan vang. God sal sorg‚ elke dag‚ vir so lank ons lewe.

’n Mens kan nie oor alles ’n vrolike vinkie wees nie. Daar is so iets soos verantwoordelikheid ook. Maar daar is ook net soveel wat jy aan die saak kan doen en dan moet jy dit verder aan die Here oorlaat‚ met ’n muur om.

Onthou: in die lewe gaan dit om een tree op ’n slag. Een dag op ’n keer. En Jesus sê:  "Kyk‚ Ek is met julle al die dae". Dis so belangrik dat Hy sê al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Want al die dae beteken ook die swaarkrydae of die lekker-lag-dae – ja‚ al die dae!
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css