Die Weg

Ons Tye is in God se Hande
Dr Callie Operman
www.gkws.iway.na

Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is ‘n tyd om gebore te word, ‘n tyd om te sterwe, .... (Prediker 3:1-2)

Daar is ‘n tyd vir ‘n verskeidenheid dinge.... So beskryf Prediker, die wysheidsboek, die gang van die mens se lewe op aarde. “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd ...” Ons weet dit uit ervaring. Sommige dinge kom maar net op jou pad. Jy het geen beheer daaroor nie. Veertien dinge wat teenoor mekaar staan, word opgenoem (Pred 3:2-9), Die mens beweeg tussen twee pole: die pool van lewe en behoud, teenoor die pool van dood en verlies. So is daar die beginstreep en die einde van ons lewe op aarde: "daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe". Die een gee blydskap (normaalweg), die ander bring hartseer. Maar presies wanneer daardie tydstip van geboorte en sterfte is, weet ons nie.

Is ons maar instrumente in die hand van die "noodlot", met geen beheer oor ons tyd nie? Sulke gedagtes het die Prediker besig gehou. Dit laat ons ook soms diep dink. Alles loop vlot, volgens jou beplanning, maar skielik word dit onderbreek deur die onverwagse. 'n Ongeluk, siekte, dood, natuurramp, mislukking, teëspoed - noem maar op - kan alles deurmekaar gooi.

Tyd! Wie het beheer daaroor, wie bepaal wat ek daarmee kan maak?

Tussen geboorte en sterfdag is eintlik net 'n kort strepie: 1952-2009. Wat gebeur in daardie tyd wat met die strepie aangedui word, waarheen lei alles? Dit vra die prediker homself af: "Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei?" In Psalm 90 bid Moses; Ons jare is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe.

Die antwoord op die sin van ons lewe, of die verloop van ons tye, Iê buite die bepaalde tyd. Ons kan nie aan tyd sin gee sonder om met God, wat bo die tyd verhewe is, rekening te hou nie. Hy het tyd geskep, maar is nie daaraan onderwerp nie. God maak die sin van tyd en ewigheid aan ons bekend deur die Seun wat mens word, Jesus Christus. Gebore op 'n spesifieke dag, gekruisig op 'n ander dag, opgevaar na die hemel op nog 'n dag deur God bepaal. Dit het nie met Hom gebeur buite sy beheer nie. Jesus is koning, ook oor sy tye. Hy het doelbewus sy aardse tyd gebruik vir dit waarvoor Hy mens geword het.

Daarom kan elkeen wat in Jesus glo daarvan seker wees dat noodlot nie jou tye bepaal nie, maar God. In Jesus Christus word ons deel van sy tyd, wat afloop na 'n vasgestelde doel, die ewigheid. Daar is dus niks beter nie, as om eike dag met God te begin en af te sluit nie. Maar meer nog, om tussen geboorte en sterfdag jou oog op daardie dinge te vestig wat bo die tyd uitgaan. Beplan met God se koninkryksdiens as jou hoogste doel, dis ewig. Maak hemelse skatte bymekaar deur liefde uit te leef, want dit gaan nie tot niet nie.

Mag God, wat sin gee aan tye, jou ook te midde van skynbaar sinnelose gebeure, vandag blydskap gee. Geniet wat jy doen, want Hy gee ook hierdie dag aan jou, om te groei in jou verstaan van sy pad vir jou, tussen al die minute van jou lewe deur.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css