Regverdige oordele van God, maar volharding in sondes deur die mensdom
Dr Callie Operman
www.gkws.iway.na
God het die reg om sondaars te straf. Hy mag ook wraak neem op hulle wat sy volgelinge deur die geskiedenis vervolg, laat ly en doodgemaak het. Tog gebruik Hy hierdie reg van Hom met integriteit. Hy slaan nie sommer toe met sy oordele nie, maar waarsku met geduld en gee tyd vir inkeer. Sodoende sal daar vir hulle wat nie van hulle bose weë terugkeer nie, geen verskoning of vryspraak wees op die laaste dag nie.
Die openbaring van God se pad met sy kerk en die wêreld tot op die laaste dag is vooruit vir ons opgeteken. Alhoewel dit met beeldspraak is, wil die Here God hê dat sy volgelinge sal insig hê oor wat gebeur. Ons sit dikwels met allerlei vrae in ons gemoed.
Soos: Waarom word diegene wat sy kerk vervolg nie dadelik gestraf nie? (Veral die eerste lesers van Openbaring het daarna gevra.)
Waarom kom daar allerlei rampe en plae oor die mensdom? Waarom sorg Hy nie vir sy kinders nie? Is Hy dan nie 'n God van liefde nie? Het God beheer verloor?
In Openbaring vind ons die beskrywing van die tydperk van Godsregering oor kerk en wêreld vanaf die hemelvaart tot met Jesus se wederkoms. Ons lees van God se heerskappy oor alles en almal. Maar ons lees veral daarin van God se troos vir sy kerkvolk wat deur die ongelowiges misken, vervolg en doodgemaak word. Die mag en teenstand van die satan en sy magte teen God word bekend gemaak. Die boek loop uiteindelik na die finale oordeel oor die goddelose, asook die verlossing van die gelowiges.
Vanaf hoofstuk 15 maak God sy toorn oor die goddelose bekend in die uitgooi van 7 bakke. Dit tref verskillende dele van die mensdom en die skepping.
Alhoewel daar ooreenstemming is met vroeëre dele van die boek Openbaring, sien ons 'n duidelike groei na die finale oordeelsdag. Deur die uitgooi van die bakke van toorn word elkeen wat in die wêreld is, gewaarsku om hulle tot God te keer. By Hom alleen is verlossing.
GOD BRING DIE OORDELE
Die eerste belangrike insig wat die Woord ons gee, is dat God self die plae deur die uitgooi van die 7 bakke oor die wêreld bring. Ons lees dat 'n harde stem uit die tempel opdrag gee: “Gaan gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit!” Dit is die stem van God. Hy inisieer die plae oor die aarde en Hy gebruik dit vir sy doel. Die rede vir die oordele is die toorn van God oor die goddelose wat oor die eeue in opstand teen Hom was en wat die kerk vervolg het.
Mag God dit doen? Is Hy dan nie 'n God van liefde en seën nie? Daaroor gee die visioen wat Johannes sien en hoor vir ons 'n baie duidelike antwoord. Dit word in die mond van een van die engele geplaas:
“U is regverdig, U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het; want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet, en U het hulle self bloed laat drink. Dit het hulle verdien.”
U is regverdig - God bring nie die plae en oordele willekeurig nie. In sy regverdigheid word die optrede van mense en volke beoordeel. Niks gaan by Hom verby nie. Hy is ook die Heilige – Hy is hoog bo die aarde en die onheilige sameswerings verhewe. Hy word nie deur magte en heersers beïnvloed nie. Hy kan nie omgekoop word nie.
Hy is die almagtige God, Heerser oor die nasies, wie se integriteit bo verdenking staan.
Wie dan vandag vra na die rede vir skrikwekkende dinge wat die mensdom bedreig, moet nie by God fout vind nie. Ons moet ook nie mense napraat, wat beweer dat God nie meer in beheer is van die skepping nie. Nee, die regverdige en heilige God gee opdrag om as sy oordele soos bakke oor die aarde uit te giet.
Die engel gee ook 'n verdere rede vir die oordele. Die Here neem wraak op hulle wat sy volgelinge en profete vervolg, gemartel en doodgemaak het. Hy antwoord op die gebede van diegene wat reeds as martelare gesterf het. In Open 6 lees ons: Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het. Hulle het hard geroep: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?”
Nou antwoord God: Só lank nog. Daar kom 'n tyd van die laaste plae. Ons hoor iets van die Israeliete wat in slawerny in Egipte was en om verlossing geroep het. Op sy tyd het God die Farao en sy volk met 10 verskillende plae getref, totdat sy volk kon uittrek na hulle beloofde land.
In die brief aan die Tessalonisense lees ons die belofte van God aan sy vervolgde gemeente: Dit alles is ’n bewys van die regverdige oordeel van God, naamlik dat Hy julle geskik geag het vir sy koninkryk, waarvoor julle nou ook ly. God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ’n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo.
God, die regverdige en heilige, tree dus met integriteit op wanneer Hy die 7 bakke met die laaste plae oor die aarde en sy mense uitstort.
EERSTE VIER BAKKE TREF DIE GODDELOSE
Maar waarmee tref die Here die wêreld wanneer hy sy laaste oordele begin?
Die toorn van God tref eers die mense op aarde.
Die eerste engel het toe gegaan en sy bak op die land uitgegooi. Daar het kwaadaardige en pynlike swere uitgekom aan die mense wat die merk van die dier aan hulle het en wat sy beeld aanbid. (16:2)
Nie alle mense word getref nie, maar die navolgers van die duiwel kry die kwaadaardige en pynlike swere. Hulle word gestraf en ter selfdertyd gewaarsku dat die finale oordeel van God kom. Hulle volgehoue diens aan die satan sal nog meer van God se oordele oor hulle laat kom. Hulle dien van satan het veral ingehou dat hulle die kerk van Christus vervolg, mense mislei en God belaster het.
Deur die volgende oordeelsbak word die hele see, met alles wat daarin leef, getref. Die derde bak tref verder ook al die waters op die aarde. So word dit beskryf:
Die tweede engel het sy bak in die see uitgegooi. Dit het bloed geword soos die bloed van ’n dooie, en alles wat in die see lewe, het doodgegaan.
Die derde engel het sy bak in die riviere en die waterbronne uitgegooi. Dit het ook bloed geword.
Watter ellende bring dit nie vir die ekonomie en die oorlewing van mense nie! Skeepvaart, visserye, hoeveel miljoene mense op aarde se lewens word nie daardeur geraak nie.
Dan lees ons: Die vierde engel het toe sy bak op die son uitgegooi. Daardeur is aan die son die vermoë verleen om die mense met vuur te brand.
Vuur word met God se oordele geassosieer. So was dit by Sodom en Gomorra, so sal die finale oordeel deur vuur wees. Dié eerste vier oordele raak die mense, want die sere maak dood; die bloedsee maak die seelewe dood; die bloedriviere lewer nie vars water nie en die vuurrooi son verbrand mense. God se plae is vernietigend.
GEEN BEKERING NIE
Ons beleef vandag baie van die tipiese dinge waarna Openbaring verwys as die laaste oordele van God oor die mensdom. Wanneer 'n mens die verloop van die wêreldgeskiedenis nagaan, sien ons verskeie tydperke van kwaadaardige en pynlike swere, wat deur siektes veroorsaak is. Groot lyding wat oor mense gekom het. Tog sien ons 'n toename daarin. Mense sterf ten spyte van die vooruitgang van die mediese wetenskap. Besoedelde water is 'n al groter wordende probleem. Kan dit wees dat die seewater en alle vars water in bloed verander? Ja, God het dit in Egipte laat plaasvind.
Maar hoe reageer die mense op aarde op die plae en teëspoed? Die geskiedenis word herhaal. Die goddelose verwyt God oor die ellendes wat hulle deur hulle eie sondes oor hulle gebring het. Geen inkeer nie, geen eer aan die regverdige God nie. Inteendeel, die Naam van God word belaster.
Waar geen bekering is nie, volg uiteindelik die finale oordeel. Kinders van God moet waak om nie saam te sing in die koor van godslastering nie. Nee, ons moet met wysheid die gebeure in die wêreld beoordeel. God se oordele en waarskuwings raaksien. Roep almal op tot bekering. Die tyd is min.
AMEN.
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css