☰ Die Weg

Die duiwel is weer los vandag
Jan Brink

Hierdie Afrikaanse spreekwoord word gewoonlik geuiter wanneer baie dinge gelyktydig skeefloop. Maar die duiwel is behoorlik los in hierdie wêreld.

Kyk gerus maar na die massamedia, soos die televisie, koerante en tydskrifte. Dit is godslastering, owerspel, hoerery, dwelms, bedrog, moord en so kan ‘n mens aanhou. En die ergste van alles is dat baie van hierdie sondes soos water van ‘n eend se rug van ons afrol. Die ergste is nog, dat dit in twee groepe verdeel word: die aanvaarbare sondes en die verwerplike sondes. Die aanvaarbare (of sagte) sondes is o.a. godslastering, hoerery en owerspel. Die verwerplike sondes (of harde) is bedrog, diefstal, verkragting en moord.

Ons verlekker ons in die tydskrifte en TV-sepies wat die mense se sondes met kleur en geur aanbied. Die koerante en tydskrifte publiseer dit want dit stoot hulle sirkulasiesyfers op.  Ons nooi die sondes in ons huise in en bied dit op skinkborde aan ons kinders via die televisie. Ons gee toe aan alles wat aangebied word. Onbewus raak ons gewoond daaraan en verloor die sondes hulle afskuwelikheid. Ons kinders begin ook daarmee eksperimenteer want hulle idole doen dit dan. Kort voor lank word ons kinders ingesluk deur seks en dwelms. Ons ontken dit natuurlik ten sterkste. Ons kinders sal mos nooit so-iets doen nie!

Werklik? Wat doen ons kinders wanneer beide pa en ma by die werk is?

Wat ons eintlik moet vra is hoekom gebeur dit? Hoekom is die duiwel spreekwoordelik los?

Ons moet besef dat ons aan die einde van die tyd leef. Die tyd van Christus se wederkoms is naby. ‘n Mens vind profesieë met betrekking tot die verdorwenheid van die laaste dae op vele plekke in die Bybel: 

2 Thessalonicense 2:3 -6 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word.

Romeine 1:26 - 32  Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is;  en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan 'n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid;   nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig, mense wat - al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien - dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.

2 Timotheüs 3:1-5  Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God.

Die Satan weet sy tyd om siele vir hom te wen, is min. Maar, die koring moet eers ryp op die land staan. (Mattheus 13:30). Die getal van die uitverkorenes moet eers vol word. Die Satan probeer met alle mag om die oestyd uit te stel of te voorkom.  Want sy eie vernietiging staan voor die deur.
 
1 Petrus 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

Openbaring 12:9 En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.

.Mattheus 13:37 - 43.  En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, en die saailand is die wêreld. Die goeie saad -- dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele.

Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen,  en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css