Is daar 'n hemel, en indien wel, waar? Paulus skryf in 2 Korinthiërs 12:2 (1983 vertaling) “Ek ken ‘n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel.” Die vraag is: wat is hierdie derde hemel? Na vroeg-Joodse voorstelling bestaan die hemel uit drie vlakke. Die eerste hemel is dié gebied waar die wolke in voorkom. Dit is die atmosfeer soos ons hom ken. Die tweede hemel is die gebied waar die hemelliggame geplaas is (son, maan en sterre). Die derde hemel is in sy figuurlike sin verhewe bo die atmosfeer en die hemelliggame. Paulus noem dit ook die Paradys. Voordat ons die hemel bespreek, moet ons eers ‘n kykie kry op wie en wat die mens werklik is. Die mens (LW! “hy/sy” hieronder verwys ook natuurlik na “sy/haar”)
Die mens is sowel ‘n vleeslike as ‘n geestelike wese. Daar is verskillende stadiums in die ontwikkeling van die menslike wese. Met, of net kort na bevrugting, word die gees alreeds in die ongebore mens geplaas. Op ‘n dag gebeur daar iets wonderbaarliks en skrikwekkends. Die mens betree ‘n nuwe lewensfeer met lig, reuke en harde geluide. Hy betree ‘n onbekende nuwe wêreld waarin al sy ander sintuie geaktiveer word. Die naelstring wat hom aan sy moeder verbind het, word verbreek. Al gou kom hy agter dat daar baie meer aan die lewe is as net dít waaraan hy tot nou toe gewoond was. Hy bevind hom in ‘n driedimensionele ruimte wat hy deur middel van sy nuutgevonde sintuie kan waarneem. Met tyd raak hy al meer bedrewe met die gebruik van hierdie sintuie, en hy aanvaar sy nuwe wêreld. Hy is nou ‘n vleeslike wese met vleeslike behoeftes. Die mens is egter ook gees. Alhoewel die gees reeds in die mens aanwesig is, kan dit nie tot volwassenheid kom nie, tensy bevrugting van die gees nie eers plaasgevind het nie. Hierdie wêreld is die baarmoeder van die gees waar die gees tot volle ontwikkeling moet kom. Die naelstring wat ons binne ons wêreld vashou is die menslike liggaam. Die bevrugting van die gees geskied in Jesus Christus deur die Heilige Gees. Paulus sê in 1 Korinthiërs 15:48 tot 50: “Soos die stoflike mens was, so is ook die stoflike mense; en soos die hemelse mense is, so is ook die hemelse mense. Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook beeld van die hemelse wees. Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie. Kyk, ek maak ‘n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word.” Op ‘n dag, of jy nou 32 jaar oud of 80 jaar is, gebeur daar weer iets in jou lewe. Die stoflike liggaam moet afgewerp word. Die liggaam is immers net beperk tot ‘n tyd-ruimtelike bestaan. Die gees daarenteen is nie aan tyd of ruimte gebonde nie. Daar vind ‘n nuwe geboorte plaas. ‘n Geboorte in hemelse heerlikheid. Soos die pyn by die vleeslike geboorte, vind die geboorte op die volgende vlak ook nie altyd sonder pyn plaas nie. Paradys As jy nie gedurende jou aardse bestaan geestelik bevrug is nie, is jy dood**. Andersins bevind jy jou op ‘n plek waar die tyd-ruimtelike vleeslike liggaam nie sou kon inkom nie (Lukas 23:43 Jesus antwoord kom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.”) Die paradys of derde hemel soos Paulus dit stel. Die eerste hemel (atmosfeer) en die tweede hemel (sterre) is in alle praktiese hoedanigheid vir die vleeslik menslike wese toeganklik. Dit sou nie nodig wees om die liggaam te laat sterf nie. Die hemel wat die Bybel van spreek is nie toeganklik vir die vlees nie. Die hemel verg ‘n nuwe wese, iets wat buite ruimte en tyd kan beweeg. Waar is die Bybelse hemel dan? Daardie hemel is rondom ons en strek verby die uitspansel. Dit is alomteenwoordig. Soos wat radio-strale onsigbaar is, maar wel bestaan, so-ook die hemel. Die vleeslike mens kan dit nie waarneem nie. Hoe weet ons dan dat hierdie hemel werklik bestaan? Kom ons kyk eers wat die Bybel ons leer (nuwe vertaling).
• Deuteronomium 4:36. Hy het julle sy stem uit die hemel laat hoor om julle te onderrig .... Bostaande is slegs enkele aanhalings uit die Bybel. In die Bybel word daar duidelik van twee verskillende hemels gepraat. Die een waarvan ons planeet aarde deel is en wat alles die een of ander tyd sal vergaan. Die ander een is dié hemel wat vir ons onsigbaar is, en slegs met die gees waargeneem kan word. Wanneer die Bybel sê dat die hemel geopen is, is ‘n klein deeltjie van God se hemel aan die mens geopenbaar. Daar waar geen vlees en bloed kan inkom nie, maar slegs hulle wat in Christus daarheen verhuis het. Wat sê die wetenskap? Ons wil deesdae alles in terme van die wetenskap probeer verklaar. Indien iets nie in terme van die wetenskap verklaar kan word nie, hoe teoreties hierdie wetenskap ookal mag wees, word dit verwerp. Die Bybel word tans deur baie oningeligte wetenskaplikes onder verdenking geplaas. Ek sal in ‘n toekomstige artikel meer aandag oor hierdie onderwerp gee. Die wetenskap, hoe indrukwekkend die mens se uitvindings mag klink, is nog maar in sy babaskoene. Daar is baie méér daar buite wat ons nie weet nie. Een aspek daarvan is die sterrekunde. Miljarde word elke jaar spandeer om ‘n klein bietjie van die heelal te probeer verstaan. Tog word die vrae net altyd meer. Elke sogenaamde ontdekking, bring die mens net verder weg vanaf die waarheid. Uit ‘n wetenskaplike oogpunt kan ons dus nie die hemel werklik verklaar nie, want ons wéét eenvoudig nie. Wat die wetenskaplikes wel vanaf die tyd van Einstein uitgevind het, is dat die heelal meer kompleks is as net sterrestelsels en swart gate. Daar is boekdele oor hierdie onderwerp geskryf en dit sou onmoontlik wees om dit hier te bespreek. Ek sal dus met ‘n kort gevolgtrekking en verdere verwysings hier volstaan. Wetenskaplike gevolgtrekking Deur sekere wetenskaplike wette toe te pas, moet daar ‘n direkte verband bestaan tussen die gedrag van sterrestelsel en die totale massa en energie in die sterrestelsels teenwoordig. Hierdie massa en energie kan vanuit gegewens mbt die hemelliggame bereken word. Wetenskaplikes wat van verskillende metodes gebruik gemaak het om die massas van die sterrestelsels te bereken, het gevind dat 90% van die heelal uit materie en energie bestaan wat glad nie waargeneem kan word nie. ‘n Verdere gevolgtrekking is dat hierdie materie ook nie uit atome bestaan nie. Hierdie onsigbare materie en energie staan dan ook bekend as donker materie en donker energie (dark matter / dark energy) omdat dit op geen menslike manier waargeneem kan word nie! Daar is ook baie onenigheid tussen die wetenskaplikes mbt wat hierdie donker materie wel kan wees en hoe dit ontstaan het. Daar moet ook onthou word dat die aarde deel van die sterrestelsels is, en dat hierdie onsigbare materie en energie ook rondom ons is. Die res laat ek aan die leser se eie gees oor! Bestudeer gerus die inligting hieronder. Verwysings oor hierdie onderwerp:
http://www.en.wikipedia.org/wiki/Dark_matter
Slotsom Die hemel waarheen alle gelowiges op pad is, bestaan werklik, alhoewel ons nie gedurende ons aardse bestaan dit kan sien of die inhoud en die omvang daarvan sal weet nie. Die hemel is nie iewers daarbo tussen die sterre nie. Dit is om ons. Dit mag so naby wees dat ‘n mens letterlik daaraan sou kan vat, indien ons daardie vermoë sou gehad het. God het dit aan enkele mense geopenbaar en dan slegs vir ‘n baie kort bestek.
Voetnotas:
|
||