As die hart gaan staan
Lukas du Preez
Op die aand van 26 November 2008 het sy hart net gaan staan. Ons het hom die volgende oggend in sy meenthuis se badkamer gekry. Hy was reeds koud en styf. Ons oudste, en enigste seun. Meer nog, my vriend en regterhand. Ek onthou nog die opgewondenheid by sy geboorte. ‘n Seun! Eenuur daardie nag moes ek dit nog vir die bure gaan vertel. Die kroon op my lewe. Maar nou is hy weg na 32 jaar se noue verbintenis.
Hy het nie gesterf nie. Die Here het hom net van ons kom wegneem. Hy het immers sy hele lewe vir sy familie, vriende en die Here geleef. Sy groot wens om predikant te word, kon hy nooit vervul nie. Maar die Here het dit anders gewil, wat ons op hierdie oomblik nie kan begryp nie.
Die smart rondom sy dood het vir ons egter ook nuwe insigte gebring. Die insigte van die ewigheid wat ons as aardslinge nie altyd wil besef nie. Ons weet dit, maar ons besef dit nie noodwendig nie. Ons tyd op hierdie aarde is baie beperk. Dit gaan so gou verby. Hy was reg om daardie skeidslyn tussen tydelike en ewiglike te oorbrug. Is ons reg? Is ons gereed vir die ewigheid?
In die afgelope maand het daar baie deur my gedagtes gegaan. Dit is nie die hoekoms en waaroms van sy sterwe nie, maar eerder die waaroms en hoekoms van die lewe. Hoekom lewe ons? Hoekom word ons gebore om net weer te sterwe? Hoekom is die wêreld soos hy vandag is? Wat is dus die dieper betekenis van die lewe? Waarom treur ons?
Om antwoorde hierop te kry, is nie altyd baie maklik nie, veral nie as ons dit vanuit ons aardse bestel probeer verklaar nie. Die uiteindelike antwoorde kan ons maar slegs by een plek gaan soek. Die Skepper daarvan.
Die mens in sy wese is nie maar net ‘n toevalligheid op hierdie aarde nie. Wee die persoon wat dink dat ons as mens net die bopunt van ‘n evolusieketting en ‘n superdier is. In die werklike lewe is daar mense wat seker die karakteristieke van ‘n superdier vertoon. Dis die mense wat nie wil besef dat die liggaam van vlees en bloed maar net ‘n tydelike aardse huisvesting vir die siel is. Op die bestemde tyd sal daar ‘n skeiding tussen liggaam en siel noodwendig moet plaasvind. God het dit so bestem dat Sy uitverkorenes weggeneem sal word na ‘n plek waar daar geen pyn en ellendes meer is nie. Wee hulle wat die oorgang nie kan smaak nie. Die ewige dood waar daar geen lewe en geen God en geen Christus is nie.
Op die oomblik van konsepsie, wanneer sperm en eiersel bymekaar kom gee God ‘n gees aan die mens. Hierdie gees bevat dan alreeds die bewustheid van God. Daar is geen volk op hierdie wêreld wat nie die bestaan van ‘n god erken nie. Oor al die eeue heen was dit so. Die mens is vanaf sy geboorte bewus van ‘n goddelike wese wat aan die bestuur van sake is. Die ware kennis met betrekking tot die skepping en die God van lewe en sterwe het egter ontbreek. So het dit gekom dat daar ‘n magdom van verskillende gode is wat deur verskillende volke ge-eer en aanbid is. In baie gevalle hulle eie maaksels. Die soeke na die God waarvan die bewusmaking in die wese van die mens by bevrugting geplant word is vanaf die grondlegging van die aarde reeds daar. Die kennis van die enige God het egter ontbreek. Daarom die ewigdurende soeke van die filosowe na die Waarheid.
Die nuwerwetse mens het met sy wetenskap en tegnologie egter anders besluit. Die besef dat daar ‘n god moet wees het begin vervaag, vir hulle het dit ‘n mite geword. Immers, die mens het via evolusie oor biljoene jare vanuit ‘n enkele sel na hoëre vorme ontwikkel (volgens die evolusioniste). Hiervolgens is die mens alleen vir sy eie voortbestaan op hierdie aarde verantwoordelik. Die gode van die antieke tye is vervang met mensgemaakte nuwerwetse gode in ‘n ander gedaante. Die materialisme. Die offers op die altare van afgode is vervang met nuwe soort van offers wat by die moderne tyd en denkpatrone moet aanpas. Die afgod se naam is nie meer Baal nie, maar Geld. Aanbidding van hierdie god bring vir jou status, mag oor ander mense, gerief, plesier, allerhande genietinge, vrolikheid en vreugde. Dit is maar weereens kortstondig gemeet aan die ewigheid waarheen ons op pad is. Dit kan enige oomblik van jou weggeneem word. Kyk maar net wat tans in die wêreld aan die gebeur is. Geld en rykdom is selfvernietigend. Dit vernietig die moraliteit van die mense sowel as die hele aardse bestaan.
Die mens is in wese uit, ‘n geestelike wese, die aarde en alles daarop sal eendag tot niet gaan. Daarmee ook rykdom, mag en eer. Leer uit die geskiedenis hierdie feite. Alle wêreldvolke het tot ‘n val gekom die oomblik toe hulle op die hoogtepunt van hulle rykdom en mag was. Die Romeinse Ryk het deur sy status, mag, rykdom, vraatsug, brassery en hoerery tot ‘n val gekom. Daar is slegs een Waarheid, en dit is dat ons die enige ware God sal dien en eer in ons daaglikse handel en wandel, en waar God aan iemand wel rykdom verskaf, verwag Hy dat dit tot sy Eer aangewend sal word. Geld en goed is nie ‘n end in homself nie. Ons is in hierdie wêreld maar nie van hierdie wêreld nie.
Met tegnologie poog die mens om sy aardse bestaan te verleng en om ‘n moontlike heenkome op ‘n ander planeet te soek. In vele gevalle word dit in die Naam van God nagejaag. O mens, wat is jy ydel en kortsigtig!
My eerste vraag teenoor die Here was: waarom het U hom weggeneem? Hy was altyd opreg en Godvresend. In sy lewe het hy nooit oor homself gepraat nie. Na sy dood het ons eers die omvang van sy lewe op hierdie aarde besef. Van sy kollegas by die werk, die jongmense in die gemeente, sy stapmaats, vriende en kennisse het ons verneem dat sy lewe deur en deur van sy geloof in God gespreek het. Daaruit het voortgevloei sy bereidwilligheid om te help, te ondersteun, te onderskraag en ‘n liefde teenoor ander uit te straal, selfs die wat hom in vele opsigte te na gekom het. Here, waarom het U hom kom haal en nie vir iemand soos Robert Mogabe nie?
Die troos van die Here was oorweldigend. Hy het sy taak op hierdie aarde voltooi. Hy gaan na ‘n plek waar die aardse pyn en verdriet hom nie meer kan aanraak nie. Hy was gereed. Daar is plek vir hom in die Nuwe Jerusalem. Hoekom hom nog langer aan die aardse verganklikheid en lyding blootstel?
Heb 11:13: “........ hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is”.
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css