Sin in lyding?
Hentie Krüger
www.midweek.co.za
“Hy sê: ‘Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor‚ en op die dag van redding het Ek jou gehelp.’ Kyk‚ nou is dit die regte tyd‚ nou is dit die dag van redding.”
— 2 Korintiërs 6:2 —
Robert Gordis is reg as hy sê:
Om die regte vrae te vra is die toppunt van wysheid‚ want oor die belangrikste kwessies van die lewe is dit net die vrae wat bly voortbestaan; die antwoorde is van korte duur.
Gordis sê verder dat mens ook die verkeerde vrae kan vra. Maar dit is nie nodig om hierop in te gaan nie. Dalk moet ons ons net bepaal by een van die algemeenste vrae wat ’n mens hoor: Is daar sin in lyding?
Maar moet die vraag nie eerder lui: Is daar sin in die lewe? nie‚ want lyding is ’n onlosmaaklike deel van die lewe. Om te vra of daar sin in lyding is‚ veronderstel dat lyding los van die lewe staan. Agter so ’n vraag lê ook die gedagte dat lyding oor ’n mens se pad kom as ’n soort onreg teenoor jou. Daarom is: “Waarom? Waarom gebeur dié dinge met mý” van die vrae wat die meeste in krisisse gehoor word.
Die volgende vraag sal natuurlik wees of daar enige vrae is wat werklik help. Die verlammende waarheid is immers dat‚ al sou ’n mens ’n antwoord kry op wat die betekenis van jou lyding kan wees‚ dit nog niks aan die feite van jou situasie gaan verander nie. Ek is van mening dat ons nie moet vra‚ waarom God lyding toelaat nie‚ maar dat ons moet vra: Is daar onder die mense iemand wat vir God liefhet‚ nie omdat God so goed of soveel dinge het wat ons graag wil hê nie‚ maar wat gewoon vir God lief is omdat Hy Gód is? Met ander woorde: Is daar iemand wie se liefde vir God nie somme maak nie?
God is op ’n besonderse manier aan die werk in en agter ons tyd. Ja‚ die lewende God is betrokke by ons kalenders‚ geskiedenis en horlosies. By die natuurlike ritmes van dag en nag‚ maand en jaar‚ seisoen na seisoen. By gebeure in die tyd‚ die groot oomblikke van die geskiedenis‚ die hoogte- en dieptepunte in menseheugenis. Maar ook by die sekondes‚ minute en ure van ons klein‚ persoonlike lewe. Of dit gelukkige‚ gevulde dae en weke is wat verbyvlieg sonder dat ons dit agterkom‚ of dalk net enkele bittere‚ vreesagtige oomblikke wat voel na ’n ewigheid … God is daarbý‚ op ’n besonderse manier‚ in en agter alles.
Vir Christene is God nie bloot ’n ander naam vir iets ewigs in onsself‚ vir die diepe geheimenisse van ons siel‚ wat ons deur mistiek of kontemplasie (Lat. contemplatio‚ bespiegeling‚ bepeinsing) kan ontdek nie. En ook nie bloot ’n ander naam vir die ewige natuurwette wat die skepping voortstu nie.
Nee‚ vir die Christelike geloof is God Iemand‚ die Lewende‚ die Vader van ons Here Jesus Christus‚ die Hoorder van gebed‚ betrokke in ons geskiedenis‚ ons lewe‚ ons tyd.
Hoekom is daar dan nie vir ons ’n “daarom” as ons swaarkry nie? Daar is baie redes. Omdat God vry is‚ en nie volgens ons skemas hoef te handel nie. Omdat God groot is‚ en sy weë nie ons weë is nie. Omdat God almagtig is‚ en selfs die kwaad kan ombuig ten goede. Maar óók omdat God ánders is. Omdat ons nie sal weet waar om te kyk of waarvoor om te soek as ons sy vinger wil raaksien nie. Ons voorstellinge‚ ons verwagtinge‚ ons idees oor God is te misplaas‚ te menslik dat ons sy handewerk sou herken. Daarvan is Jesus se geboorte ’n dramatiese voorbeeld: eenkant en eenvoudig‚ nederig in ’n stal‚ by diere en skaapwagters. Maar ook sy prediking en lewe demonstreer dat God onder ons aan ’t werk is – ook in ons naastes – maar dat ons Hom nie herken nie. Om van die mens se onbegrip by die kruisiging van God se eie Seun‚ waarin die wil van God juis volbring word‚ nie eens te praat nie.
Waar laat dit ons? Luister asseblief na 2 Korintiërs 6:2: “Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor‚ en op die dag van redding het Ek jou gehelp.” Dit is wat ek vers twee van die evangelie noem. God is nie afwesig wanneer swaarkry sy nare skaduwee oor gelowiges se lewe gooi nie. Trouens‚ God se genade is te alle tye tot sy kinders se beskikking‚ selfs ook in die heel donkerste uur. Die dag van redding en hulp is inderdaad altyd hier‚ soos wat Paulus in 2 Korintiërs 6:2 skryf. Vers twee sê ook dat swaarkry nie net ongelowiges te beurt val nie. Inteendeel‚ dit tref die meeste mense die een of ander tyd. Christene inkluis. Maar vers twee verseker ons ook dat God ons nooit in die steek laat nie.
Het jy al vrede met vers twee van die evangelie gemaak? Of raak jy dalk opstandig oor elke stukkie swaarkry in jou lewe? Sien jy terugslae as God se straf? Dan moet jy juis by Paulus kom leer dat God geen witbroodjies het wat Hy in watte toerol en sonder stampe of stote saggies hemel toe lei nie. As selfs Paulus nie swaarkry en terugslae gespaar is nie‚ sal ons dit mos nie makliker hier op aarde hê nie‚ of hoe? Maar dan moet ons ook by Paulus kom leer om ons nie blind te staar teen ons swaarkry nie. God is nooit is sulke tye afwesig nie. Nee‚ Hy is tree vir tree by ons.
Ons behoort nie aan onsself nie. Wie dit verstaan en vir hulle toe-eien‚ wie dit glo en bedink‚ ken ware‚ diepe vreugde én ware‚ volkome bevryding. Dan verstaan ons dat ons nie vir onsself hoef te sorg nie‚ omdat liefdevolle hande ons dra‚ bewaar en versorg. Dán verstaan ons dat ons niks en niemand hoef te vrees nie‚ omdat ons bemin en geborge is. Dán verstaan ons dat die teenslae van die lewe‚ die teleurstellings en mislukkings – hoe verskriklik ook al‚ en ja‚ hulle ís onuitspreeklik verskriklik – nie die laaste woord oor ons lewens is nie. Dán verstaan ons dat die dwaashede en die skuld van ons eie gisters ons nie gaan inhaal en verteer nie‚ omdat ons vergewe is.
Om te weet dat ons nie aan onsself behoort nie‚ help ons egter óók verstaan dat ons nie so onophoudelik vir onsself mág probeer sorg nie‚ dikwels ja‚ meesal‚ ten koste van ander – maar dat ons bevry is om ander met liefdevolle hande te help dra en bewaar. Dan verstaan ons dat ons nie heeltyd krampagtig mág vrees vir wat tog van óns gaan word nie‚ maar juis bevry is om ánder te kan bemin en hulle te kan beveilig. Dan verstaan ons dat ons nie so neerslagtig en morbied mág wees oor ons vele klagtes nie‚ maar bevry is om blydskap en hoop te help versprei‚ ook deur ons woorde. Dan verstaan ons dat ons nie so beangs mág wees dat ons ons foute alewig moet probeer wegsteek‚ ontken en goedpraat nie‚ maar dat ons bevry is om ons skuld te kan bely sodat daar genesing‚ heling en versoening kan kom.
Ek behoort nie aan myself nie‚ maar aan Jesus Christus. Christus bewaar ons dat niks sonder die wil van die Vader met ons sal gebeur nie. Sal ons staande bly? Ja‚ die kind van God sal omdat Christus hom bewaar. In Psalm 73:23 (1953-vertaling) sê Asaf: “Nogtans is ek altyddeur by U; U het my regterhand gevat”. Let goed op: dit is nie die mens wat God se hand gevat het nie maar God wat sy hand gevat het. Hierdie bewaring beteken nie dat die kind van God nooit in beproewings kom nie‚ maar dat God hom midde in die beproewings bewaar.
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css