Die Weg

Die invloed van die televisie se programme op kinders
Wietske Boon
www.childtherapist.co.za

‘EK GROEI SOET.’ Is dit wat jy van jou kind sê wat voor die televisie grootword of ‘n gedeelte van die dag sonder toesig voor die televisie deurbring?  Is die programme wat jou kind kyk werklik so opvoedkundig of ontspannend?  Hier is ‘n paar riglyne waarvolgens jy die invloed wat televisieprogramme op jou kind het, kan meet:.

 

EK GROEI SOET


Ervaring van die program
Konsentrasievlak

Gehoor
Realiteitsbesef en onderskeid met fantasie
Ouderdom
Ervarings uit die verlede
Identifisering

Sig
Onbewuste ervaring
Energie
Toesig

 

Ervaring van die program

 Jou kind kan die program positief of negatief ervaar.  Dit is nie noodwendig so dat jou kind vir jou kan sê wat sy ervaring van ‘n program is nie aangesien jong kinders nie oor die nodige begrip beskik en/of die woordeskat het om dit met jou te kommunikeer nie.  Dit is ook nie noodwendig so dat jou kind die televisie gaan afskakel en in sy kamer gaan speel wanneer hy nie van ‘n program hou nie.  Kinders is geneig om eerder voor die televisie te sit as om kreatief te wees en eie inisiatief aan die dag te lê om self ‘n aktiwiteit uit te dink wat hom besig kan hou.  Wanneer ‘n kind ‘n program negatief ervaar en steeds by die televisie bly sit, beteken dit tog dat jou kind nie ontspanne is nie en moontlik is sy angs- en frustrasievlakke besig om te verhoog.  Wanneer jou kind dan tog voor die televisie weggeskuif het, het jy te doen met ‘n moeilike kind wie se gedrag moontlik afkeurend is.


Konsentrasievlak

Jou kind se konsentrasie tydens ‘n kinderstorie bepaal die mate waartoe die storie en gebeure onthou word.  ‘n Kind wat ‘n storie in detail onthou gaan moontlik frases en gedrag herhaal wat in die storie voorgekom het.  Indien jou kind dus ‘n program gekyk het met kras taal of afstootlike gedrag, is die moontlikheid groot dat jou kind dieselfde kras taal en afstootlike gedrag gaan naboots.  Voordat jou kind na ‘n program kyk, evalueer die taalgebruik en aksies wat na vore kom.  Sien “onbewuste ervaring” ‘n bietjie verder vir kinders wat nie met aandag na ‘n program kyk nie.


Gehoor

Gehoor behels die dialoog asook die musiek wat in die program voorkom.  “Heavy metal” musiek en musiek met ‘n baie vinnige ritme sal jou kind moontlik angstig maak en meer energiek.  Hierdie energie en angs word later deur sy spel geprojekteer.  Programme wat gebruik maak van rustige musiek maak jou kind meer ontspanne en sy gedrag sal ook rustiger wees na die program.


Realiteitsbesef en onderskeid met fantasie

 Hier word verwys na jou kind se onderskeidingsvermoë tussen realiteit en fantasie.  Klein kinders het nog nie die vermoë om te onderskei tussen realiteit en fantasie nie.  ‘n Kind wat vasgevang word in ‘n fantasiewêreld kan moontlik die gebeure, handelinge en dialoog in die storie naboots aangesien hy nie kan insien dat dit nie prakties moontlik of afkeurend is nie.  Byvoorbeeld Superman wat vlieg om mense te red:  die kind wat nie die onderskeidingvermoë het tussen realiteit en fantasie nie, sal op die huis se dak klim en spring met die goeie intensies om ‘n verbeeldingsmaat te red.  Baie van die hedendaagse karakters besit bomenslike vermoëns wat jou kind kan verwar in terme van wat menslik is en wat nie.  Hierdie konsep verwar ook kinders in terme van die unieke, enige almag van God.  Wanneer kinders geleer word dat karakters amper “goddelike” kragte besit, verminder dit die kind se besef van die uniekheid en grootheid van God se almag.
 

Ouderdom

Kies ouderdomgepaste programme vir kinders.  Kinders behoort nie toegelaat te word om programme te kyk met ouderdomsbeperkings nie.  Dit bly egter nie die verantwoordelikheid van die uitsaaier om die ouderdomsbeperkings wat vir jou kind geskik is te bepaal nie.  Dit is die ouers se verantwoordelikheid om te bepaal wat gekyk mag word en wat nie.  Jy wonder moontlik wat dan ouderdomsgepas is?  Wanneer ‘n ouer met eerlikheid en gemak elk van hierdie riglyne aan ‘n program gemeet en goedgekeur het, kan die kind toegelaat word om dit te kyk.


Ervarings uit die verlede

Hier het ons te doen met die kind se vorige ervarings.  Kinders onthou dinge wat betrekking het op hul eie lewens en waarmee hulle kan identifiseer.  Die kind wat byvoorbeeld reeds uit ‘n geweldadige huisgesin kom sal meer geneig wees om aggressie te toon tydens en/of na hy ‘n program met aggressiewe gedrag gekyk het.  Hierdie kind sal ook eerder ‘n aksiebelaaide program kies as ‘n rustige program. 


Identifisering

Hierdie is die mate waarmee jou kind identifiseer met die karakters in die storie.  Kinderstories het meestal ‘n held en ‘n oortreder.  Jou kind kan met enige van hierdie twee karakters identifiseer.  Indien jou kind identifiseer met die oortreder in die storie, kan sy gedrag verander om soos die van die oortreder te word.  In die hedendaagse kinderstories beskik die helde ook van bonatuurlike kragte wat die kind gaan uittoets. Dus kan beide die held en die oortreder jou kind negatief beïnvloed.  Moet dus nie net konsentreer of daar ‘n oortreder in die verhaal is nie, maar ondersoek ook of die held se gedrag aanvaarbaar is of nie.  In Aspoestertjie is die drie susters en die stiefma die “oortreders” en Aspoestertjie die heldin.  Geen aggressiewe gedrag word getoon nie, en daar is ‘n les te leer vir die kind uit die gedrag van die drie susters en die skoonma.  Hierdie is ‘n gesonde verhaal met ‘n heldin en oortreders.


Sig

Sig is alles wat jou kind sien wanneer hy na die storie kyk, hoe die karakters en storie uitgebeeld word.  Drogdrake en aaklige, angswekkende “mense” wat so baie gesien word in kinderprogramme kan kinders angstig maak en nagmerries veroorsaak. Om die kinders se aandag te hou word gebruik gemaak van helder kleure, vinnige bewegings en geweld.  Jou kind kan oorgestimileer word deur te veel kleure en bewegings, veral ‘n jong kind.  Oorstimulering veroorsaak ongemak by jou kind wat in sy gedrag na vore sal kom.  Kies eerder ‘n storie wat ontspannend is met sagte kleure en ‘n nie-geweldadige storielyn.


Onbewuste ervaring

 Onbewuste ervarings word vasgelê in die onbewuste wat later weer deur die kind geprojekteer word.  Selfs al toon jou kind nie dadelik hierdie gedrag wat hy in die storie gesien het nie, kan dit eers op ‘n later stadium, op verkeerde wyses en ongeleë plekke, na vore kom. Onbewuste ervarings is ook veral geneig om na vore te kom tydens drome.  Dit is dan wanneer jou kind nagmerries ervaar en jou in die middel van die nag wakker maak vir gemoedsrus.


Energie

‘n Moeë kind sal minder aandag skenk aan ‘n program as ‘n kind met baie energie.  Die “op-en-wakker” kind se konsentrasievlakke is hoog en hy kan moontlik dadelik die gedrag of dialoog naboots, maar die storie bly steeds vassteek in die minder energieke kind se onderbewuste en later na vore kom in die vorm van sy gedrag of drome.  (Sien ook konsentrasie en onbewuste ervaring)


Toesig

’n Ouer behoort beskikbaar te wees wanneer die kind televisie kyk sodat die kind vrae kan vra of sodat die ouer leiding kan gee waar nodig.  Dit is nie die werk van die televisie om ons kinders op te voed nie. 

Indien jy jou kind op ‘n Christelike grondslag wil opvoed is dit nodig dat jy as ouer die verantwoordelikheid neem teenoor watter programme jou kind kyk en wat in jou huis verbied word.  Al sal jy as ouer ongewild wees of jou kind dikmond omdat hy sekere programme nou nie meer mag sien nie, jy moet vasstaan en nie toegee nie.  Hou konsekwent vol om die televisie af te skakel wanneer ‘n ongewenste program vertoon word.  Ouers, moenie die kinders kamer toe stuur en self die goor programme kyk nie.  Indien dit ‘n aangename, maar volwasse program is wat vertoon word, verduidelik dit so aan jou kind. Wees waaksaam dat die duiwel nie in jou huis ingenooi word deur (wat ons ontspanning noem) wat op die televisie vertoon word nie!

Meer inligting beskikbaar by www.childtherapist.co.za

Kopiereg© Wietske Boon Spelterapie
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css