Geloof en Hoop in beproewings
God is steeds daar in donker dae
Ds Maarten van Helden
In donker dae is die Here steeds in beheer. Ons lewe in ‘n gebroke wêreld en die duiwel sal ons beproewings wil omdraai in versoekings! Job se lewe val op een dag in stukke, en tog kry hy die genade om sy oog op God gerig te hou. Sy dieptepunt in lyding word ‘n hoogtepunt in geestelike groei.
Om nie op perde te vertrou nie.
Ds Maarten van Helden
As jy vandag moes kies tussen ‘n donkie en ‘n perd, sal jy seker eerder die aanskoulike perd met sy vertoon, sy krag en sy spoed verkies. Tog is dit opvallend dat mens byna nooit van perde lees as dit by die Israeliete kom nie. Gaan soek jy perde in die Bybel dan kry mens dit meesal by die vyande van Israel. Ons lees selfs dat die Israeliete gereeld al die perde se hakskeensenings moes afsny! En as Jesus op aarde sy glorieryke intog in Jerusalem maak en die volk hul hosannas uitroep, dan is sy keuse ook die donkie (esel).
...... “Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde” en dan veral hierdie woorde: “maar ons”. Die volgende vers praat van “hulle”. Wie is die hulle? “.. maar óns, ons vertrou op die Naam van die HERE ons God”. Hulle sal struikel en val, maar ons sal regop en vas bly staan. Sommige vertrou op strydwaens en perde maar ons vertrou op die Naam van die HERE ons God. ........
Is God goed?
Hentie Krüger
“Wat my aangaan‚ dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al u werke bly vertel.”
— Psalm 73:28 —
Asaf kon nie verstaan waarom dit goed gaan met die goddeloses en sleg met die regverdiges nie. Maar nadat hy besef het dat geregtigheid wél sal seëvier‚ het hy God se wysheid erken. Hierdie tema sê vir ons dat dit een van die wysheidspsalms is. Daar is twee opvallende temas in Psalm 73: (1) die goddeloses is voorspoedig en dit laat gelowiges wonder waarom hulle nog die moeite doen om reg te leef‚ en (2) die goddeloses se besittings is só aanloklik‚ dat die gelowiges in die versoeking is om te wens dat hulle plekke kon ruil. Die twee temas eindig egter albei op ’n verrassende noot: die goddeloses se rykdom gaan nie by die punt wat die teenswoordige van die ewige lewe skei‚ verby nie‚ maar die gelowiges se beloning is tot in ewigheid. Dít wat vroeër na rykdom gelyk het‚ is dus nou ’n vermorsing en dít wat nutteloos gelyk het‚ hou vir ewig.
Dankie vir vandag!
Hentie Kruger
“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe‚ oor wat julle moet eet of drink nie‚ of oor julle liggaam‚ oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?”
— Matteus 6:25 —
In Tree vir tree het ons gesien dat as dit begin donker word, moet jy stadiger begin beweeg en selfs stilhou. Ons moet onsself nie moeg dink oor wat môre of selfs volgende jaar kan gebeur nie.
Alhoewel ons dit vir mekaar sê‚ wil ons tog so graag vêr sien.
Jesus het op baie plekke seker oor baie dinge gedink. Maar ek wonder of Hy Hom ooit bekommer het oor waar Hy gaan eet en slaap. Hy sê: “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie‚ want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie” (Matt. 6:34).
Beproewings
Callie Opperman
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!
Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee.
In elke moeilikheid bemoedig Hy ons.
Daarom kan ons weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer.
(2 Korintiërs 4:1-6)
God die Vader gee moed. Hy bemoedig ons ... in elke omstandigheid en in elke moeilikheid.
Paulus, die apostel van die Here Jesus, het dikwels die bemoediging nodig gehad. Hy beskryf die teenstand in die tyd van sy sendingwerk in die provinsie Asië soos volg: “Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het.” (2 Kor 4:8).
Dooie bene kry lewe
Hentie Krüger
“Die Here sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here‚ droë bene! So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”
— Esegiël 37:4-6 —
Dit is die jaar 597 vC. Die Babiloniërs het Palestina binnegeval en deporteer die eerste van drie groepe mense (ongeveer 10 000 mense). Onder hulle was ’n jongman van 25 jaar. Sy naam is Esegiël. Dit beteken‚ “Die Here versterk.” Aanvanklik het hierdie groepie gedink dat hulle binnekort sal terugkeer na hulle geboortegrond. Maar die jare skuif aan en 27 jaar later is Esegiël ’n man van 52 jaar en nog steeds in Babilonië. Ons vind hom tussen die ballinge in Tel-Abib by die Kebarrivier in Babilonië. In hierdie tyd praat die Here met die Israeliete met behulp van Esegiël deur middel van visioene. Een daarvan is dié van die gelykenis van die droë bene in die laagte.
Party mense beskuldig Esegiël daarvan dat hy aan katalepsie ly. Eenvoudig gestel‚ hy is die kluts kwyt! Stel jou dit voor. Hy loop om die bene‚ tussen hulle en preek vir hulle‚ “Hoor die woord van die Here‚ droë bene!”
Die Here is in beheer
Hentie Krüger
“Wie weet‚ miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het.”
— Ester 4:14 —
Twee woorde wat nie in die oorspronklike teks van die boek Ester voorkom nie‚ is “God” en “geloof.” En tog gaan Ester in ’n baie besondere sin om God én om geloof. Dit vertel hoe die Here gesorg het dat Ester koningin van Persië word; hoe Hy Mordegai gebruik het om die Jode se vyand‚ Haman‚ teen te staan; hoe Hy op die regte oomblik al die regte dinge laat gebeur het om Haman uit te skakel en Mordegai sy plek in die regering te laat inneem.
Ja‚ God se hande beweeg agter die geskiedenis wat hom in die boek Ester afspeel. God is in dié boek aanwesig.
Christus is!
Hentie Krüger
“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo‚ sal lewe‚ al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo‚ sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”
— Johannes 11:25‚ 26 —
Die meeste van ons sukkel om “oor niks bekommerd te wees nie” veral wanneer ons ontsteld of verskrik is deur gebeure in ons lewe. Nogtans kan ons leer om God, God te laat wees en sy aanwysings en oordeel te vertrou. Maar so dikwels verwar ons die begrippe geloof en vertroue.
Verskrompel, maar nie verbrand
Callie Opperman
“Ek het verskrompel soos ’n velsak in die rook, maar u voorskrifte het ek nie verontagsaam nie.” (Psalm 119:83).
Die Psalms het sulke treffende beskrywings. Soos hierdie simboliek: “Ek het verskrompel soos ‘n velsak in die rook”. Vel is hardgemaak om dig te kan wees sodat dit kan dien as `n wynsak. Daarvoor is dit in rook gehang, sodat die hitte en rook die tekstuur kon verander om geskik te wees. Dit het verskrompel.
So gaan die mens soms deur tye van nood, met teenstanders wat jou afkraak, moeilike omstandighede wat jou energie tap, beproewings wat soos rook en hitte verskrompel. Dit breek egter nie af nie, maar versterk jou geestelik.
Swaarkry - Jou weg deur die lewe
Dr Callie Opperman
“Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord.
Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.” (Psalm 119:67,71)
Swaarkry is vir niemand aangenaam nie, ook nie maklik nie. Dit kan op verskillende maniere swaar gaan in die lewe – finansieel, swak gesondheid, vervolging, op geestelike terrein, emosioneel, sielkundig, ens. Ons reaksie op swaarkry is dikwels ook nie baie positief nie. Ons verstaan baie keer nie waarom iets oor ons pad kom nie. Soms bid ons, maar kry nie duidelike antwoorde nie. Dit is moeilik om by ‘n punt van innerlike vrede en berusting te kom.
NIKS is vir God onmoontlik nie
Hentie Krüger
“Abraham en Sara was albei al baie oud‚ en Sara was verby die ouderdom van kinders in die wêreld bring … Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom lag Sara? Waarom dink sy: sal ek werklik ’n kind in die wêreld bring noudat ek oud is? Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara ’n seun hê.”
— Genesis 18:11‚ 13-14 —
“Die Here gee niks meer vir my om nie. Hoekom laat Hy toe dat hierdie slegte dinge met my gebeur?” Het jy dalk al soortgelyke woorde kwytgeraak? Of dit miskien stilletjies gedink? Jy is nie alleen as jy so voel nie. Baie ander mense dink ook so. Selfs in die Bybel lees ons van mense wat die Here van onregverdigheid beskuldig het.
Tree vir tree
Hentie Kruger
“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie‚ want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” — Matteus 6:34 —
Izak de Villiers sê wanneer dit rondom ’n mens donker word‚ moet jy stadiger begin beweeg.
As dit donker word moet ’n mens stilhou. Daarin lê ook baie groot wysheid: stilhou en ’n slag goed rondkyk voordat jy dit verder waag. Maar dan moet jy met die bietjie lig tot jou beskikking een tree op ’n keer gee. Dit help nie om in terme van tien treë te dink as jy net een tree voor jou kan sien nie‚ om van kilometers nie eens te praat nie. Baie mense maak die fout om onmiddellik as ’n krisistoestand ontstaan die toekoms te probeer voorspel‚ dat dit so of so sleg gaan wees en so of so onmoontlik en ondenkbaar. Een of twee hardloop selfs na mense wat sogenaamd in die toekoms kan sien.
Ons Tye is in God se Hande
Dr Callie Operman
Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is ‘n tyd om gebore te word, ‘n tyd om te sterwe, .... (Prediker 3:1-2)
Daar is ‘n tyd vir ‘n verskeidenheid dinge.... So beskryf Prediker, die wysheidsboek, die gang van die mens se lewe op aarde. “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd ...” Ons weet dit uit ervaring. Sommige dinge kom maar net op jou pad. Jy het geen beheer daaroor nie. Veertien dinge wat teenoor mekaar staan, word opgenoem (Pred 3:2-9), Die mens beweeg tussen twee pole: die pool van lewe en behoud, teenoor die pool van dood en verlies. So is daar die beginstreep en die einde van ons lewe op aarde: "daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe". Die een gee blydskap (normaalweg), die ander bring hartseer. Maar presies wanneer daardie tydstip van geboorte en sterfte is, weet ons nie.
Is ons maar instrumente in die hand van die "noodlot", met geen beheer oor ons tyd nie? Sulke gedagtes het die Prediker besig gehou. Dit laat ons ook soms diep dink. Alles loop vlot, volgens jou beplanning, maar skielik word dit onderbreek deur die onverwagse. 'n Ongeluk, siekte, dood, natuurramp, mislukking, teëspoed - noem maar op - kan alles deurmekaar gooi.
Sin in lyding?
Hentie Krüger
“Hy sê: ‘Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor‚ en op die dag van redding het Ek jou gehelp.’ Kyk‚ nou is dit die regte tyd‚ nou is dit die dag van redding.”
— 2 Korintiërs 6:2 —
Robert Gordis is reg as hy sê:
Om die regte vrae te vra is die toppunt van wysheid‚ want oor die belangrikste kwessies van die lewe is dit net die vrae wat bly voortbestaan; die antwoorde is van korte duur.
Die dood van die dood
Hentie Krüger
“Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.” Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.” Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo‚ sal lewe‚ al sterwe hy ook.”
— Johannes 11:23-25 —
Jesus kom lê sy arm oor die skouer van die gelowige wat treur. Hy doen dit in Johannes 11‚ veral wanneer Hy vir ons wil verklaar wat Hy vir ons gedoen het‚ soos hier in vers 25: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo‚ sal lewe‚ al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”
Tog bly die dood ons laaste vyand. Dit heers oor die geskiedenis. Ten minste dit lyk so. Maar wat het die Seun van God dan op aarde kom doen? Wat het Hy vir mý kom doen? Wat sê die Bybel werklik?
As die hart gaan staan
Lukas du Preez
Op die aand van 26 November 2008 het sy hart net gaan staan. Ons het hom die volgende oggend in sy meenthuis se badkamer gekry. Hy was reeds koud en styf. Ons oudste, en enigste seun. Meer nog, my vriend en regterhand. Ek onthou nog die opgewondenheid by sy geboorte. ‘n Seun! Eenuur daardie nag moes ek dit nog vir die bure gaan vertel. Die kroon op my lewe. Maar nou is hy weg na 32 jaar se noue verbintenis.
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css