En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.
So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.
Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.
Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid.
1 Petrus 4:11
Bedelaars sal ons altyd by ons hê. Predikante is vir sekere bedelaars sagte teikens. Die predikant MOET mos gee.
‘n Seker predikant het met die volgende oplossing vorendag gekom: moet hom nie geld gee nie, maar eerder dít waarvoor, volgens die bedelaar, die geld aangewend gaan word.
Die bedelaar daag laatmiddag by die pastorie op. Dit was sowat 40 jaar gelede toe ons nog almal trein gery het. Hy het geld nodig gehad vir ‘n treinkaartjie om sy siek moeder in Nelspruit te gaan besoek – aldus die bedelaar. “Of dominee nie vir hom ‘n paar rand kan spaar om ‘n treinkaartjie vanaf Pretoria na Nelspruit te kan koop nie”.
Die predikant het vinnig agtergekom dit is net ‘n storie, maar het besluit hy kon nie die persoon net so wegstuur nie. Hy sê: “nee maar dis reg, ek sal jou help. Maar kom dan neem ek jou stasie toe en koop vir jou ‘n kaartjie”.
“Nee dominee, dis nie nodig nie, ek wil nie u tyd mors nie. As u vir my net die geld sal gee….”.
“Nee broer, kom dan neem ek jou gou stasie toe, dit is darem ‘n redelike entjie soheentoe”.
Die bedelaar het geen keuse gehad nie. Hy moes maar in die motor klim.
By die stasie gekom, sê die bedelaar: “ baie dankie dominee, as u vir my nou net die geld gee …”.
“Nee broer, laat ek met jou saamstap tot my die kaartjiekantoor, dan koop ek vir jou die kaartjie. Dis die minste wat ek kan doen….”.
Nadat die kaartjie gekoop is, bedank die bedelaar die predikant. Die predikant sê: “nee, die trein na Nelspruit staan reeds gereed, kom laat ek met jou saamstap dan gesels ons bietjie oor jou. Daar is immers nog ‘n halfuur voordat die trein vertrek”.
Die bedelaar protesteer oor die dominee se tyd en wat van sy gesin wat nou seker al gereed maak vir aandete, ens. Die predikant sê: “nee, dis vir my belangrik om seker te maak dat jy gerieflik is op die trein, en vertel my sommer van jou ma se siekte”.
Die predikant en die bedelaar klim toe saam op die trein en die predikant doen toe wat predikante behoort te doen. Hy verkondig die evangelie aan die bedelaar.
Net toe die trein sy eerste ruk gee spring die predikant van die trein af en laat ’n verslae passasier op die trein agter. Dit is mos immers waarvoor hy gevra het.
Om groot te dink is nie altyd die antwoord nie 01/12/09 Webmeester
Vra vir iemand in Suid-Afrika wie Michael Hirte is, en niemand sal hom waarskynlik ken nie. Maar, Michael Hirte, die mondharmonika (mondfluitjie)-speler, is ‘n baie bekende musikant in Duitsland. Hy het nie minder nie as 700,000 kopieë van sy albums die afgelope jaar verkoop. Sy pad was egter nie altyd met rose besaai nie.
Michael Hirte het in Lübbenau/Spreewald, in die Duitse staat Brandenburg, grootgeword en het later na Karzow, ongeveer 12 km vanaf Potsdam, verhuis. Hy was ‘n vragmotorbestuurder totdat hy in 1991 in ‘n ernstige ongeluk betrokke was. Hy was twee maande lank in `n koma. Verblind in sy een oog en met ‘n stywe been sou hy nooit weer vragmotors kon bestuur nie. As werklose met net ‘n klein staatstoelae het sy vrou van hom geskei. Om sy inkomste aan te vul het hy met sy mondharmonika as straatmusikant in Potsdam se strate opgetree. Hier het hy kennis gemaak met ‘n oortuigde Christen. Hy neem die Christelike geloof aan en word lidmaat van die Baptiste Kerk in Potsdam, waar hy ook in 2000 gedoop is.
Mense wat hom gehoor speel het, het hom aangeraai om in 2008 aan die RTL Super Talent-kompetisie deel te neem, waar hy die Ave Maria op sy mondharmonika gespeel het. Met 72% van die stemme op hom verenig ontvang hy die titel “Supertalent 2008“ en insgelyks 100 000 euro. Hy tree daarna saam met die Duitse rokgroep Puhdys op en ontvang ‘n kontrak van die mondharmonika-vervaardiger Höhner. Sy eerste album Der Mann mit der Mundharmonika is op 5 Desember 2008 vrygestel. Dit word opgevolg met Der Mann mit der Mundharmonika 2 wat die eerste plek in Oostenryk en tweede plek in Duitsland verower het.
Dit is voorwaar ‘n belewenis en gee ‘n mens hoendervleis as jy hom hoor en sien speel, met die mondharmonika wat hy heeltemal in sy vuis toevou.
Dit was vir Michael Hirte sekerlik ‘n lang, moeilike pad vanaf 1991 tot 2008. ‘n Mens kan jouself probeer indink hoe hy moes gevoel het toe hy nie met sy beroep kon voortgaan nie, en sy vrou hom boonop verlaat het. Dit was egter die feit dat hy nie voor swaarkry geswig het nie en sy geloof, wat gesorg het dat hy met iets kleins soos die mondharmonika die hart van die Duitse volke verower het. Hy het terloops geen formele musiekopleiding gehad nie.
Koningin Christine van Swede bewonder 'n beeld van Bernini. 'n Kardinaal sê aan haar: "Ek sien, U Majesteit, dat U die waarheid bewonder; nie alle heersers doen dit nie."
"Dit is wel waar", sê Christine, "maar nie alle waarheid is uit marmer gekap nie!"
"Binne in my is daar 'n geveg aan die gang", sê hy aan die seun.
"Dit is 'n afskuwelike geveg tussen twee wolwe. Die een wolf is sleg - hy bestaan uit woede, jaloesie, verdriet, hebsug, nyd, verwaandheid, wrok, leuens, valse trots, grootheidswaan en ego.
"Die ander wolf is goed - hy is vreugde, vrede, liefde, hoop, kalmte, nederigheid, vriendelikheid, welwillendheid, meegevoel, vrygewigheid, waarheid en geloof. Binne in jou woed dieselfde stryd - en dieselfde geld vir elke mens."
'n Man loop in die veld en sien 'n kokon. Hy tel die kokon op en neem dit saam na sy huis. Hy merk dat daar 'n klein gaatjie in die kokon verskyn waaruit 'n vlinder probeer kom. Hy kyk 'n paar uur lank hoe die vlinder sukkel om homself te bevry. Hy kon dit nie langer hou nie, en besluit om die arme vlinder te help. Hy neem 'n skêr en sny die kokon versigtig oop.
Die vlinder het egter 'n geswolle liggaam en verfrommelde vlerke. So bly hy sy hele lewe lank. Wat die man nie begryp het nie, is dat hy 'n onguns aan die vlinder gedoen het om hom te help. Die smalle kokon en die worsteling om deur die gaatjie uit die kokon te kom, was nodig vir die vorming van die vlinder. Met die worsteling word nodige liggaamsvloeistowwe na die vlerke gepomp sodat hy gereed sal wees om te vlieg sodra hy homself uit sy kokon bevry het.
Net so is die worstelinge in die lewe vir ons ook belangrik. Dit help ons geestelike groei. Sonder daardie worstelinge sal ons nie so sterk wees as wat ons is nie, en sal ons die aanslae van die wêreld moeilik kan deurstaan. Ons sou nooit kon vlieg nie.
`n Skerpioen staan aan die oewer van 'n rivier wat hy wil oorsteek. Gelukkig vir hom kom daar net 'n padda aangeswem.
Skerpioen: "Asseblief padda, kan jy my op jou rug oor die rivier neem?"
Padda: "Is jy gek? As ons halfpad oor die rivier is, dan steek jy my!"
Skerpioen: "Nee padda, ek sal jou nie steek nie. Dit is suiwer logika. As ek jou steek dan is jy dood en dan versuip ek."
Padda: "Nou goed, klim op my rug dan neem ek jou oor die rivier."
Toe hulle halfpad oor die rivier is, voel padda 'n geweldige steekpyn in sy rug. Terwyl die wêreld om hom wasig word sê hy: "Wat doen jy nou? Jy het dan gesê dat dit onlogies is om my te steek."
"Dit het niks met logika te doen nie", sê die spartelende skerpioen. "Dit sit in my karakter."
'n Bakker en 'n boer het 'n ooreenkoms. Die bakker ontvang botter van die boer, en gee dan, in ruil daarvoor, brood vir die boer. Na 'n tydjie kom die bakker agter dat die botter wat hy van die boer ontvang, al ligter word. Die botter behoort 1 kilogram te weeg.
Die bakker weeg die botter op sy weegskaal, wat aandui dat dit heelwat ligter is as die oorspronklike 1 kilogram. Die bakker kla die boer vir bedrog aan. "Die botter wat u aan die bakker lewer is nie die ooreengekome gewig nie", sê die landdros teenoor die boer. "Dit behoort 1 kilogram te weeg, maar dit is veel minder."
"Dit is nie korrek nie u edelagbare", sê die boer, "ek het dit elke keer geweeg".
"Dalk is u gewigte verkeerd", sê die landdros.
"Watter gewigte?", vra die boer stom verbaas. "Ek het geen gewigte nie!"
"Maar waarmee weeg u dan as u geen gewigte het nie?", vra die landdros.
"Heel eenvoudig", sê die boer. "Ek kry my brood van die bakker en hy kry botter van my. 'n Brood weeg 1 kilogram. Dus plaas ek my botter links op die weegskaal en die brood regs en so weeg ek dit af."
Sokrates, die Griekse wysgeer, wandel op ‘n dag deur die strate van Athene. ‘n Man loop hom opgewonde tegemoet. “Sokrates, ek moet jou dringend iets oor jou vriend vertel...”
“Stop eers”, onderbreek Sokrates hom. “Voordat jy verder gaan. Het jy dít wat jy wil vertel eers deur die drie siwwe gesif?”
“Die drie siwwe? Welke drie siwwe”, vra die man verbaas.
“Laat ons dit probeer”, stel Sokrates voor.
“Die eerste sif is die sif van waarheid. Het jy dít wat jy my wil vertel, ondersoek?”
“Nee, iemand het dit vertel en....”
“A-a juis! Dan het dit seker deur die tweede sif gegaan? Die sif van die goedheid. Is dit iets goeds wat jy my van my vriend wil vertel?”
Aarselend antwoord die man: “Êêê, nee, inteendeel.....”
“Hm”, sê die wysgeer. “Laat ons dan die derde sif gebruik. Is dit noodsaaklik om my te vertel wat jou só opwen?”
“Nee, nie direk noodsaaklik nie”, antwoord die man.
“Wel, wel”, sê Sokrates glimlaggend. “As die verhaal wat jy my wil vertel, nie waar is nie, nie goed is nie en nie noodsaaklik is nie, vergeet dan daarvan en moet my nie daarmee belas nie.”
Kies die spesifieke onderwerp bo-aan die bladsy en klik "Vertoon".
Om 'n nuwe onderwerp te begin, klik op 'Skep nuwe onderwerp' .
Om 'n nuwe boodskap te plaas, klik "Nuwe boodskap".
Om kommentare op 'n spesifieke boodskap te sien, klik "Kommentare op boodskap".
Om kommentaar by 'n boodskap te voeg, klik "Kommentare op boodskap".
Die Webmeester behou homself die reg voor om enige boodskappe wat ongewens is te redigeer of te verwyder.