En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.
So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.
Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.
Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid.
1 Petrus 4:11
Ek het aan die begin van April al begin met die Engelse weergawe van my nuusbrief. Donderdagaand (22/4) was ek eers klaar. Nog voor ek dit kon "copy en paste" om dit in Afrikaans te vertaal, moes ek IETS gedoen het, weet nie wat nie, maar die hele brief verdwyn toe in "thin air". OF dalk is dit deur die komputer ingesluk? Tot nou toe kon ek dit nie in die ingewande van hierdie wonderlike moderne "masjien" opspoor nie!!
En as ons nie meer verder kan, begin ons weer van vooraf aan!!
Verblydende nuus: "Kate" is twee weke gelede gedoop. Ek was bevoorreg om haar doopdiens by te woon. Dit is gedoen in die gemeente wat sy bywoon en in haar selgroep. Sy het met 'n stralende gesig vertel hoe die Here haar van die mag van dwelms verlos het. Sy is gedurende Mei verlede jaar uit die "detention centre" ontslaan en het nognie weer aan dwelms geraak nie. Dit was 'n opdraende stryd, maar ons dank die Here dat Hy haar houvas en dat sy in Hom groei.
Baba sentrum: Daar is nog steeds allerhande veiligheids probleme waarmee ek nie gelukkig is nie.
Op die oomblik is daar twee babas wat HIV positief is. Een van hulle is al meer as 'n jaar oud. Hy is spring lewendig en gesond en net te oulik vir woorde. Hy kan nie veel langer in die babasentrum bly nie. Die gesondheidsafdeling het versoek dat Garden of Mercy (GOM) 'n pleegsorg fasiliteit begin waar drie sulke kleingoed in pleegsorg by 'n gesin kan bly...Bid asseblief dat gewillige, Christen pleegouers gevind sal word.
Sommige Woensdagaande het ek 'n Bybelstudie met twee van die maatskaplike werksters en een verpleegster van die babasentrum. Yu-ru, die verpleegster, is 'n Christen. Die ander twee - Wendy en Even, is nie Christene nie. Veral Even het baie vrae en baie redes waarom sy nie die Here nodig het nie. Bid dat die Bybelstudie meer gereeld kan plaasvind. Daar is baie kere dat hulle te besig is om wel te kom. Dit is meesal omdat daar nie genoeg werkers by die babas is nie.
Tronk: Deesdae besoek ek elke Vrydag die dames in die vrouetronk in Lungtan. Daar is meer as 'n honderd HIV positiewe, meesal dwelmslawe, in een "fabriek" in die tronk. Sin Ee Teo, 'n nuwe OMF'er van Singapoer, gaan vanaf begin Maart saam met my. Ons het 'n groep van agt dames wat ons vir ongeveer agt keer sien voor ons 'n nuwe groep kry. Dit is wonderlik om iemand saam met my te neem. Ons kan saam gesels en saam bid vir die dames. Bid asseblief dat die owerhede sal toelaat dat Sin Eee kan voortgaan na my aftrede. Bid ook asseblief dat sy 'n medewerkster sal kry. Ongelukkig kan sy nie saam met my na die "detention centre" gaan nie.
"Detention centre". By die mans in die "detention centre" kom ek met allerhande soorte mans in aanraking. "Mike" verskree my nou ander dag: "Waar is God? Wys Hom vir my, dat ek Hom goed kan opvoeter!" Hy is in hegtenis geneem net 'n paar dae na sy ouer broer uit dieselfde aanhoudingsentrum ontslaan is. Twee weke later vra ek om hom weer te sien. Ons gesels 'n lang ruk en hy is baie meer nederig. Vertel hoe hy homself haat elke keer wanneer hy die heroin in sy are spuit, maar kan NETNIE ophou nie. Weer wys ek hom na die Enigste Een wat hom werklik kan help. Weereens wil hy niks met God te doene he nie. Hy is op homself aangewese. Nie sleg nie... kan nie ophou dwelms gebruik nie EN het nog vigs ook gekry.. Ek het hom belowe ek gaan vir "my mense" vra om te bid dat hy die Here "van aangesig tot aangesig" sal sien en dat hy sy lewe aan HOM sal oorgee.
Gedurende haar vyfde verblyf in die detention centre het "Lillian" 'n ontmoeting met die Here gehad. Sy was opgewonde oor haar geloof en het teenoor die ander gevangenis getuig van wat die Here vir haar gedoen het. Sy het die voorreg gehad om een van hulle na die Here te lei. Na haar ontslag is sy terug om by haar ma te bly. Dis waar haar probleme begin.. Sy gaan wel na 'n kerk in haar omgewing, maar niemand reik uit na haar nie. As gevolg van allerhande probleme het sy ook geen geld, geen werk, geen vriende. Dit is uiters moeilik om nie terug te gaan na die ou vriendekring nie...
"Shanie" het ook in die tronk tot bekering gekom. Dit was ookal die hoeveelste keer in aanhouding. Sy het uitgesien daarna om ontslaan te word. MAAR haar ou vriende kontak haar en sy is te swak om die versoeking te weerstaan. Soms roep sy die Naam van die Here aan en kry oorwinning. Sy wil SO GRAAG heeltemal verlos wees van die dwelms!
Daar is 'n dringende behoefte aan 'n halfweghuis waar HIV positiewe, dwelmverslaafde dames, wat uit die tronk ontslaan word, tydelike skuiling, ondersteuning, liefde, gebed en hulp kan kry om weer op die regte pad te beland. Ons benodig ook die nodige personeel wat sulke dames sal verstaan.
Persoonlik. Engela en ek sal graag gedurende Julie, wanneer sy skoolvakansie het, wil trek. Die woonstel waar ons nou woon is te duur vir haar om alleen te betaal. Op die oomblik betaal sy helfte en ek (OMF) die ander helfte. Indien ons gedurende Julie kan trek, kan ek ook sommer my goed klaar oppak om SA toe te stuur. Vir daardie paar maande kan ons dan maar in 'n kleiner woonstel klaarkom.
Ek word die 5de Mei in die hospitaal opgeneem vir 'n biopsie op die 6de. Sal glo weer die volgende dag (7de) ontslaan word. Bid dat, indien daar verdere behandeling nodig is, alles gedoen sal word VOOR ek terug gaan Suid Afrika toe.
Ek dank regtig heel dikwels die Here dat ek so bevoorreg is om julle as gebedsondersteuners te hê. Weet nie meer HOE om julle te laat weet hoe baie ek julle waardeer nie! GROOT GROOT dankie vir die gebede en geduld.. veral dat ek die keer so lank geneem het om van my te laat hoor.
Chinese Nuwejaar val hierdie jaar op die 14de Februarie. In die markte oral oor die eiland wurm mense deur skares om by die beste winskopies uit te kom. Tradisionele nuwejaarslekkernye is bo aan hulle lysies van MOET koop. Splinternuwe klere word by die stalletjies deurmekaar gekrap in 'n poging om die mooiste klere teen die laagste pryse aan te koop. In die banke staan rye mense geduldig in lang toue en wag om hulle ou papiergeld vir kraak nuwes om te ruil. Die note word dan in helder rooi koeverte gesit om as geskenke vir kinders en kleinkinders uitgedeel te word.
Baie van die mense vir wie ek lief geword het gaan die nuwejaar met vrees en bewing tegemoet. WAT gaan hierdie jaar met my gebeur? Gaan my familie en vriende ontdek dat ek HIV positief is en indien wel, gaan hulle my verstoot? Gaan ek dalk siek word en selfs sterf? Sal ek dit regkry om "nee" te sê vir dwelms? Sal ek werk kry na ek uit die tronk ontslaan word? Die lys gaan aan en aan. Die meeste van hulle leef sonder hoop. As ek so hartseer voel oor hulle, hoeveel te meer moet die Vaderhart nie treur oor die toestand van die mense wie Hy na SY beeld geskape het nie?
"Wan jye; sal jy asseblief 'n vriend (Henk) in die intensiewe sorg eenheid van die hospitaal gaan besoek? Hy het 'n rukkie gelede die Here aangeneem. Sy suster is ook 'n Christen, maar sy ouers en ouer broer is nie Christene nie." Die oproep is kom vanaf "Out of Egypt", 'n Christelike organisasie wat homoseksuele mense help wat graag hulle lewenstyl wil verander.
Na my eerste besoek aan "Henk" kom ek in die portaal van die hospitaal waar ek twee pragtige rose verlate op 'n stoel sien lê. Elke roos het 'n nota op met "Henk, jya jou" (go, go Henk) daarop geskryf. Ek het dadelik besef wie dit daar neergesit het. Dit was Henk se vriende wat opgewonde gekom het om hom op te beur, net om te vind dat hy in 'n koma in die intensiewe sorg eenheid lê terwyl suurstof, masjiene wat voortdurend druis, binneaarse vloeistof en allerhande pype hom aan die lewe hou.
Terwyl Henk sterwend lê prewel sy Boeddhistiese ma 'n mantra vir hom. Sy suster vra toestemming om te bid en nadat haar ma dit gee, dank sy die Here dat Henk op pad is om sy Verlosser van aangesig tot aangesig te ontmoet. Sy het Hom ook gedank vir die vrede wat daar in Hom is..
'n Week later woon ek Henk se begrafnis by. Tussen 250 en 300 van Henk se vriende woon die diens by gekleed in pienk en wit. Die meeste van hulle is van die vermaaklikheidswêreld en het nog nooit vantevore die Evangelie gehoor nie. Die predikant, wat vooraf daarvan bewus is, bring op 'n sensitiewe wyse 'n duidelike evangelistiese boodskap. Bid asseblief dat Henk se familie en vriende sal nadink oor die boodskap. Dit sal ook vir die familie besonder moeilik wees om die nuwejaar sonder hulle geliefde seun en broer deur te bring.
Die Chinese nuwejaarsvakansie strek tot die 20ste Februarie. Die aangehoudenes in tronke en aanhoudingsentrums vind hierdie tyd van die jaar uiters moeilik. Party van hulle kry geen besoekers of spesiale pakkies van die huis af nie. Vanoggend het ek met 'n jong vrou gesels wat net gesit en huil het omdat haar mense haar verwerp het. Sy is al vyf keer in en uit die gevangenis. Kan 'n mens regtig haar familie blameer dat hulle moed opgegee het?? Ek het haar verseker dat die Here nooit opgee nie. Bid asseblief vir mej. Wu dat sy wel haar hart vir Hom sal oopmaak.
Al ons babas (sewe van hulle), word gedurende die nuwejaar huistoe geneem deur Christelike gesinne. Hulle sal eers op die 22ste Februarie weer terug gebring word na die sentrum. Mag hulle almal veilig bly en 'n seën wees vir die gesinne wat hulle versorg.
Meeste van die pasiënte in die hospice gaan ook die nuwejaar saam met hulle gesinne tuis deurbring. Daar is egter drie pasiënte wie se families hulle nie by die huis WIL hê nie. Onthou hierdie drie ook asseblief spesiaal in julle gebede. Mag hulle besef dat die Here hulle nooit sal verwerp nie.
Vir baie van my homoseksuele vriende is hierdie ook 'n tyd waarin hulle aan ekstra versoekings blootgestel word. Bid dat die Here hulle (en veral vir die Christene onder hulle) die krag sal gee om versoeking te weerstaan.
Die meeste mense in Taiwan kry net gedurende die Chinese Nuwejaar vakansie. Baie van die Christene vind dit uiters moeilik omdat hulle huistoe gaan om die nuwejaar saam met familie deur te bring. Daar word dan van hulle verwag om deel te neem aan die voorvaderlike aanbidding. Bid asseblief dat die Here hulle sal bewaar en hulle wysheid sal gee gedurende interaksie met hulle familielede.
Na 35 jaar in Taiwan, blyk dit nou dat die Here my lei om my sendingwerk op ‘n ander vlak voort te sit – ek het ‘n uitnodiging van die Baptisteseminarium gekry en aanvaar om met ingang 2011 te begin klas gee in die teorie en praktyk van sendingwerk en evangelisasie.
Daarmee saam verander baie dinge vir my, en ‘n klompie bly ook dieselfde:
- Ek sal nog steeds my roeping vir sendingwerk kan uitleef, behalwe dat die klem na opleiding van sendelinge verskuif.
- Ek sal nog steeds van julle gebeds- en finansiële ondersteuning afhanklik wees, omdat die OMF-sendingorganisasie my nog as hulle verantwoordelikheid sal beskou, al is ek in sekere terme “afgetree”. Finansiële vergoeding wat ek van die seminarium vir klasse ontvang, sal vir die sending se rekening wees, omdat hulle oorhoofs nog vir my deur die hand van finansiële ondersteuners sal sorg.
Na beplanning sal ek my werk hier in Taiwan in September (hierdie jaar) afsluit en gedurende Oktober na Suid Afrika vertrek. My suster Engela, wat hier onderwys gee, sal na ‘n kleiner woonstel trek, maar verkies om hier in Taiwan agter te bly.
Die Here het my deur al die jare hier in Taiwan gedra. Ek dank Hom vir elkeen van julle wie my ondersteun - of dit nou deur gebed, briewe of deur finansiële bydraes is. Elkeen van julle was (en is nog) 'n skakel in die ketting wat die Evangelie en hoop na die wonderlike maar geestelik arm mense van Taiwan bring. Ek sê uit die diepte van my hart dankie dat julle hierdie pad saam met my loop. Mag die Here julle seën soos NET Hy weet om dit te doen.
Kies die spesifieke onderwerp bo-aan die bladsy en klik "Vertoon".
Om 'n nuwe onderwerp te begin, klik op 'Skep nuwe onderwerp' .
Om 'n nuwe boodskap te plaas, klik "Nuwe boodskap".
Om kommentare op 'n spesifieke boodskap te sien, klik "Kommentare op boodskap".
Om kommentaar by 'n boodskap te voeg, klik "Kommentare op boodskap".
Die Webmeester behou homself die reg voor om enige boodskappe wat ongewens is te redigeer of te verwyder.